Local news

Gospel-sanger besoek NG Kerk Randpoort

Die gospel-sanger vertel van die pad wat hy stap met die Here en hoe hulle saam aan sy musiek werk.

Gideon van Vollenstee het NG Kerk Randpoort besoek tydens hul Teelepelete en het die gemeentelede vermaak met sy musiek.

Gideon het vertel hy maak al van graad 1 af musiek en sy ma was die een wat hom aangemoedig het om vir ‘n talent kompetisie in te skryf. Hy het met ‘n kitaar groter as hy op die verhoog gestaan en Ruiter van die windjie en Don’t fly to high my little bird gesing.

Hannes Vollenstee en Lisa van Dyk. Foto: Dominique Duvenhage.

“My ma is my inspirasie. As ek van die skool af kom het, het daar altyd plate in ons huis gespeel, ons het altyd almal saam gesing. Sy het my altyd aangemoedig om te sing.”

Hy het bygevoeg sy optrede op April 27 was ter ere van sy ma wie verlede Oktober oorlede is. In 1994 het sy profesionele musiekloopbaan begin. Hy het verduidelik hy het nege sekulêre CD’s uitgebring, maar na die laaste een het hy besef sy passie is om vir die Here te sing.

Hy het tot die besef gekom dat wanneer hy sing, moet die Here se naam verkondig word.

“Dit gaan oor Sy naam en om Sy naam te verheerlik. Die Here plaas ons waar Hy ons nodig het, waar daar mense is wat Sy woord moet hoor.”

Gideon het verduidelik hy het ‘n ses jaar breek gevat waar hy glad nie opgetree het nie. Hy het ‘n werk gekry en die tyd gebruik om aan homself te werk.

Dawid en Chanelle Eygelaar saam met Anèl Vorster. Foto: Dominique Duvenhage.

“Ek moes myself verloor om Hom te vind. Ek het my lewe aan God toegewy en vir die Vader gesê ek is hier, gebruik my.”

Hy het teruggekeer na die musiekwêreld met sy eerste gospel CD en verduidelik hy en die Here het saam aan elke liedjie geskryf. Tans werk hy aan die tweede CD.

Hy het ook ‘n kerk in Randburg geërf met 20 lidmate. Hulle bid vir mense wat hulp nodig het om hulle pad na die kerk te vind.

Gawie le Roux.

Alhoewel hy trots is op al sy liedjies, het All about you Jesus die grootste impak op hom gehad.

“Dit gaan nie oor my nie, dit gaan oor God. Dis ook hoekom ek nie my gesig op die CD gesit het maar eerder die doringkroon.”

Wanneer mense hom vra hoe hoor hy God se stem, vra hy ‘hoe desperaat is jy?’.

Hy hoop, deur sy musiek te hoor, mense die boodskap van God se genade sal ontvang.

“Ons mag vra vir God se ingryping in ons lewe. Ons voel nie altyd werd om God se genade te ervaar nie, maar ons is dit werd en ons mag vra.”

Related Articles

 
Back to top button