Local news

Kry jou dansskoene en sangstem reg vir Neil en band!

Bekende Hollywood-akteur en sanger kom kuier vir sy tuisdorp.

Gebore en getoë Randfonteiner, Neil Sandilands gaan binnekort saam sy orkes optree nadat hy naam gemaak het in Hollywood.

Neil gaan hierdie winter in Suid-Afrika toer waarvan Randfontein en Krugersdorp een van sy bestemmings gaan wees. Neil en sy orkes Land en Sand gaan op 24 Julie by Laerskool Randfontein optree en sal op 25 Julie by Silverstar Barnyard optree.

Hy vertel dat hy in die voorstede van Homelake, Greenhills, Culemborg Park en Helikon Park grootgeword het.

“Ek het by Riebeeckmeer van die boonste duikplank in die swembad geduik. Ek het daar leer visvang. Ek het daar die eerste keer ’n nooi gesoen. Vir ’n jaar lank het ek die o11 rekord gehou vir hekkies totdat Gielie van Zyl van Rapportryer my onttroon het. Randfontein was goed vir my en dis hoekom ek nie skaam is om dit vandag hardop te sê nie, selfs al staan ek op Sunset Boulevard in Los Angeles.”

Sy pa, het hy vertel, is steeds tot vandag toe betrokke by mynbou. Sy ma was ‘n laerskool onderwyser by Kocksoord.

Hy het ‘n loopbaan in die toneelspel- en musiekbedryf gebou waar hy tans nog blom. In ‘n eksklusiewe onderhoud met die Randfontein Herald het Neil gepraat oor hoe hy lief geword het vir wat hy doen.

Neil Sandilands as jong seun op Laerskool Randfontein se verhoog tydens ‘n optrede. “Hoe soet gaan dit nie wees om die 24e Julie, wéér op daardie einste verhoog te klim nie? Die keer met ’n hele band,” het Neil gesê.

Die 49-jarige se eerste werklike indruk van musiek was die werke van David Kramer. Hy het vertel dat hy die kunstenaar ‘giftig’ nageboots het. Hy het in 1982 vir die eerste keer op ‘n verhoog geklim en vir David Kramer as ‘n invloed gebruik. Volgens hom, het hy oornag ‘n sensasie in Randfontein geword.

Van sy bekende liedere sluit in Huistoe, Stilte wat Raas, Kômmôsêdiesê en Desert Rose wat hy vir die uitmuntende M-Net-reeks van dieselfde naam geskryf het.

Buiten Neil se suksesvolle musiekloopbaan, neem hy ook deel aan toeneelspel. Hy het vertel dat sy sukses toegeken kan word aan meer as 36 jaar se toewyding, geduld, klippe kou, sy eie menslikheid en verganklikheid.

“Dis ook bietjie Nietzscheaanse [Friedrich Nietzsche] filosofie en daar ruk ek sy term ‘will to power’ nader. Heraclitus se onblusbare vlam. Die astrante soeke na vergestalting, wat nooit ophou nie. Ek kan al daai groot begrippe redusseer tot ‘ek was net gelukkig’, maar meer nog – mense. Mense en die skakeling met mense, uitwaarts lewe. Mense het dit moontlik gemaak. Koester jou menseverhoudings,” het Neil vertel.

Neil het tot dusver in talle bekende Hollywood-films opgetree wat insluit The Drone, Coyote Lake en Destination Mafia. Huidiglik is Neil se nuutste film Kingdom of the Planet of the Apes.

“Ek het oorleef en jy kan ook. Tereg, ek meen daar’s ’n tipe hardeneus, brutale eerlikheid omtrent dié plek. Dis ’n uitstekende plek om as vergrootglas te gebruik vir die menslike toestand. Tereg weereens, die menslike komedie. Randfonteiners het ook voortreflike humorsinne,” het Neil te sê gehad oor die Randfontein gemeenskap.

Related Articles

 
Back to top button