Local news

Motorongeluk eis geliefde vrou (32)

Na die afsterwe van Annine Grobler (32) het die gemeenskap saamgetrek om fondse in te samel vir haar begrafnis.

Die Randfontein-gemeenskap het verenig vir ‘n gesamentlike doel om die oorlede Annine Grobler se begrafnisonkostes te betaal. Talle inwoners het ‘n bydrae gemaak sodat Grobler se familie en vriende afskeid kon neem.

Grobler is dood nadat sy in ‘n kop aan kop botsing betrokke was met ‘n ander motor op 15 Junie.

Die organiseerder van die fondsinsameling, Stephan Aucamp, was geskok nadat die volle bedrag van R8 500 ingesamel was. Daarna het hy ‘n diens gereël op 6 Julie om die lewe wat Grobler geleef het, te vier. Volgens Aucamp het die begrafnisondernemer selfs afslag gegee toe hy hoor van die fondsinsameling.

Aucamp het vertel dat hul selfs borge gekry het vir die kos en dat hy ‘n stewige pot sop voorberei het. Ongeveer 50 mense het die roudiens bygewoon.

Aucamp het Grobler nege jaar lank geken en verduidelik dat sy later in haar lewe in verslawing verval het.

Aangesien Aucamp verslaafdes en haweloses help met kos en skuiling, het hy vir Grobler gesorg tydens haar verslawingtydperk.

Stephan Aucamp lewer die diens by Annine se begrafnis.

“Ek het gegaan na ‘n verlate huis waar verslaafdes gewoonlik hawe neem. Dit is toe ek vir Annine ontmoet het,” het Aucamp vertel.

Volgens Aucamp was Grobler se dood ‘n groot skok. Hy het verder verduidelik dat Grobler skoon was van dwelmmisbruik ten tye van haar dood.

“Sy was 20 dae skoon. Eendag toe kom sy na my toe en vertel vir my dat sy wil skoon kom. Alhoewel sy alreeds verskeie kere probeer het, maar teruggeval het in dwelms as gevolg van haar omstandighede, het dit geblyk of sy hierdie keer sterk gestaan het,” het Aucamp verduidelik.

Aucamp het haar ook beskryf as een van die pragtigste mense wat nooit gehuiwer het om ander mense te help nie, ongeag haar situasie.

“Toe ek een van die haweloses vertel dat sy oorlede is, toe begin hy huil. Hy het die een dag na Annine toe gegaan en gevra vir ‘n bietjie water, toe gee sy vir hom ‘n hele bottel. Sy het ‘n baie mooit hart gehad,” het Aucamp gesê.

Verder vertel Aucamp dat verslaafdes moeilike lewens lei.

“Hul huidige omstandighede kan die resultaat wees van hul ouerhuis, werkloosheid en ook persoonlike trauma. Ek is vreeslik passievol oor Randfontein en ek strewe om dit te verbeter. Die gemeenskap gaan al hoe agteruit en die inwoners se omstandighede raak net erger. Iemand moet ingryp om die gemeenskap op te hef en die mense te help,” het Aucamp afgesluit.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button