Local news

Vrou verhuis en los vyf honde en ‘n kat sonder kos en water

No More Tears Animal Rescue moes weereens inspring en vyf honde en 'n kat red wat deur 'n eienaar agtergelaat is.

No More Tears Animal Rescue het die gemeenskap se hulp nodig met hul HopeFor5-projek nadat vyf honde en ‘n kat in haglike omstandighede gevind is.

Clarisse Kruger, ‘n vrywilliger by die organisasie het verduidelik Stephan Hendricks, een van die organisasie se direkteure, het laatmiddag op 13 Oktober ‘n boodskap van ‘n troeteldiereienaar ontvang. Sy het hulle meegedeel dat sy verhuis het en nie haar diere kan saamneem nie en No More Tears moes hulle optel. Die buurman se nommer was ook op die boodskap, maar voordat Stephan kon antwoord, is hy geblok.

Een van die honde wat agtergelaat is. Foto ingestuur.

Op 15 Oktober het hulle eers daarin geslaag om die buurman in die hande te kry vir die adres van waar die diere was. Dis toe dat hulle met skok uitvind dat ten spyte van die eienaar wat in haar boodskap gesê het sy het die buurman gevra om vir die diere water en kos te gee, het hy dit nooit gedoen nie en die diere sit sedert Saterdag, 12 Oktober sonder kos en water.

Een van die honde wat agtergelaat is. Foto ingestuur.

“Gelukkig kon die buurman verduidelik waar die huis is. Stephan het reguit daarnatoe gery en gaan kyk hoe die diere lyk. Daar was ook altesaam vyf honde, en nie vier soos die eienaar gesê het nie. Die honde was almal buite, sonder enige skuiling, kos of water. ‘n Kat was binne die huis sonder enige kos of water. Dit was haglike toestande, binne en buite,” het Clarisse die situasie verduidelik.

Sy het voortgegaan deur te sê hul plan was om die diere water, kos en skuiling by die huis te gee totdat pleegsorg vir hulle gevind is. Die eienaar van die huis het egter ingestem, maar daar het dieselfde dag ‘n storm oor Randfontein gebroei en wetende dat die diere geen skuiling het nie, moes No More Tears se mense vinnig plan maak om die diere te skuif.

“Ons kon gelukkig ‘n tydelike plan vir hulle maak. ‘n Persoon het aangebied dat hulle die aand daar kon oornag en ons kon al vyf honde en die kat van die perseel verwyder.”

Die kat wat agtergelaat is het reeds ‘n ewige huis gevind. Foto ingestuur.

Die vyf honde sluit drie klein honde in; een nog jonk en nog een wie se oë al halfblind is met ouderdom; en twee mediumgrootte honde.

Die kat is tans by die veearts om gesteriliseer te word en sal Vrydag by haar permanente huis wees.

“Dit is net hartverskeurend om te dink jy los jou honde so agter, en boonop is daar twee bejaarde diere ook. Al die diere was baie bang en onseker, honger en dors. Meeste van hulle is maer en ondervoed, maar met die nodige liefde sal hulle vinnig weer mense vertrou. Almal van hulle is pragtige honde.

“Gelukkig het die diere nie mediese behandeling nodig nie, maar sal gesteriliseer en ingeënt word en mikroskyfies kry. Vir die volgende week of twee bly hulle in pleegsorg.”

Clarisse het verduidelik dat hulle hoop die honde sal binnekort vir permanente huise kry, maar indien nie, wil hulle die honde op dieselfde stuk grond plaas waar die Plan4Nine-honde tans is. Daar is nog een groot hok wat klaargemaak moet word, waar hierdie honde dan geplaas sal word.

Een van die honde wat agtergelaat is. Foto ingestuur.

Verder noem sy hulle het hulp nodig om die hok klaar te maak, asook ’n kwarantynarea. Hulle benodig finansiering en materiaal vir heinings, hekke, sinkplate en bakstene om dit te voltooi. Hulle hoop ook om ‘n hok soortgelyk aan ‘n houthuis op te sit waar die diere teen die reën en son kan skuil.

“Ons maak uitsluitlik staat op gemeenskapsondersteuning. Skenkings van enige aard hetsy finansieel, vrywilligerswerk of bewusmaking maak ‘n groot verskil. Enige skenkings is ook welkom, al is dit R50. As iemand ‘n skenking kan maak of ‘n borg kan wees, sal dit opreg waardeer word.

“Ons groot wens vir hierdie diere is om hul ewige huise te vind; ‘n huis waar hulle nie weggegooi sal word nie.”

Enige persoon wat die honde wil aanneem of ‘n skenking maak, kan No More Tears kontak op 084 433 7748 of 064 682 5145 of vir hulle ‘n e-pos stuur na info@nomoretears.org.za.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button