‘n Blikkie vir Frikkie – projek hoop om kos in te samel vir No More Tears Animal Rescue
Frikkie, een van die #Plan4Nine honde, hoop om as Kersgeskenk 'n boom wat uit blikkies hondekos bestaan, te kry.
Spiffs Pet Grooming Parlour and Products het ‘n Blikkie vir Frikkie-projek geloods om No More Tears Animal Rescue te help om kos vir die diere in hul sorg in te samel.
Clarisse Rossouw, ‘n vrywilliger by No More Tears het verduidelik dat die inisiatief deur Breggie van Loggenberg en Juanita Marx teweeg gebring is. Die doel is om ‘n Kersboom van blikkies hondekos te maak wat dan na die honde in hul hokke sal gaan.
“Frikkie van No More Tears Animal Rescue se droom is ‘n blikkieboom vir Kersfees. Die Randfontein gemeenskap kan blikkies hondekos skenk wat dan op die boom geplaas gaan word tot ons ‘n volledige Kersboom met blikkies het,” het Clarisse gesê.
Sy het bygevoeg die doel is om die Kersboom voor Kersfees te voltooi. Die blikkies kan by Spiffs afgelaai word of hulle kan reël om dit te gaan haal. Hulle hoop ook dat Frikkie raakgesien sal word en sy permanente huis vind.
Clarisse het verduidelik Frikkie was deel van die #Plan4Nine honde wat in September gered is.
“Frikkie is een van die eerste hondjies wat ons gekry het en veilig na sy nuwe huis by ons kennels getrek het. Hy is die dierbaarste hond met die mooiste persoonlikheid, soek net liefde en aandag. Hy is gebore met net drie volgroeide bene, waarvan die vierde been gebrekkig was.
“Ons grootste wens is om vir hom sy ewige huis te vind, een wat hom baie liefde kan bied.”