Local news

Twee dae van Kersvermaak om die draai

’n Liggierit sowel as ’n vermaaklikheidsgeleentheid sal ten bate van twee organisasies as fondsinsameling op 6 en 7 Desember plaasvind.

Dit is weer daardie tyd van die jaar! Die Ekumeniese Forum het hande gevat met Randmark Fietsryklub om die strate op te helder.

Op 6 Desember gaan Randmark saam met die forum drie tehuise in Randfontein besoek. Op 7 Desember bied die forum ‘n geleentheid by Tambotie Winkelsentrum aan.

Beide hierdie geleenthede dien as fondsinsamelings vir onderskeie organisasies. Volgens ds Edwin van Wyk sal die eerste geleentheid saam met Randmark ‘n fondsinsameling wees vir No More Tears Animal Rescue terwyl die tweede geleentheid vir Rainbow Dagsorgsentrum aangebied word.

Edwin het verduidelik dat die forum op 6 Desember hul eerste besoek by Randpoort Tehuis om 17:00 sal begin. Daarna vertrek hulle na Vriendskap Tuiste. Die laaste besoek sal by die Renaissance Tehuis wees. Die forum sluit om 18:30 by die Randmark-fietsryers aan.

Enigiemand wat wil deelneem kan hondekos skenk as hulle wil as ’n vorm van liefdadigheid vir No More Tears.

Verder, het Edwin vertel, op 7 Desember sal die tweede liefdadigheidsgeleentheid by Tambotie omstreeks 18:30 afskop. Dit sal naby die Mugg and Bean-restaurant wees. Hy het beklemtoon dat daar ‘n gesamentlike orkes van verskeie gemeentes sal wees wat Kersliedere sal begelei. Diegene wat dit wil bywoon, kan kampstoele saambring.

Hierdie geleentheid word gehou ten bate van Rainbow Dagsorg. Indien moontlik is mense welkom om skenkings te bring aangesien daar ‘n skenkingsboks sal wees. Mense kan ook toiletware saambring, maar dit is nie verpligtend om skenkings vir toegang te gee nie.

Rainbow Dagsorg benodig ook skenkings om twee wasbakke te bou asook om ‘n yskas te koop.

Vir meer inligting oor die geleentheid, kontak Edwin by 082 305 5807.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button