Prokureurs reik uit na gesin in nood
Een gesin se Kerswense het bewaarheid danksy 'n plaaslike regsfirma.
’n Gesin het onlangs die geleentheid gehad om Kersfees op ’n besondere manier te vier danksy Burger en Huyser Prokureurs se hulp.
Madeleine Conway, hoof van die firma se Randfontein-tak het verduidelik dat sy mense op straat help sowel as ander mense wat hulself in finansiële of moeilike omstandighede bevind.
’n Gesin het onlangs na haar gekom om hulp nadat albei ouers hul werk verloor het. Sy het toe besluit om vir die kinders ‘n Kersfees te gee om te onthou, kompleet met ‘n partytjie, geskenke en bederfies.

Alhoewel dit die eerste keer is dat die maatskappy so iets aanbied, beplan hulle om in die toekoms weer na mense uit te reik. Hul hoofkantoor het ook besluit om ‘n soortgelyke uitreik na mense in nood te doen.
“Die Here het dit op my pad gebring en ek voel dit is my roeping om mense te help,” het Madeleine gesê.
Sy het genoem dat sy talle mense gehelp het om hul dwelmverslawing hok te slaan. Sy het eers in Krugersdorp gewerk maar toe dit daar te gevaarlik raak het sy Randfontein toe gekom waar sy glo sy is meer nodig.
Sy het bygevoeg dat hulle hoop om meer kere op hierdie manier uit te reik na ander, maar ongelukkig laat finansies dit nie altyd toe nie. Hulle beplan wel om vroeg volgende jaar weer ’n gesin in nood te help.
“Ek daag almal uit om iets vir iemand in nood te gee, net vir Kersfees. Dis al wat ek vra, ek kan ongelukkig nie by almal uitkom nie,” het Madeleine gesê.



