Sionspoort fokus op inklusiwiteit
Gehoorgestremdes word uitgenooi na die Sionspoort Hervormde Gemeente se gebaretaal erediens.
Die Sionspoort Hervormde Gemeente nooi gehoorgestremdes uit om ‘n spesiale diens by te woon.
“Persone met gestremdhede is ‘n integrale deel van elke gemeenskap. Ons verseker dus deesdae op alle terreine dat daar fasiliteite vir gestremdes is, maar hoe ‘luister’ die gehoorgestremdes na die prediking van die Woord?” het die mediabestuurder Appel Ernst gevra.
Sedert die TransOranje Skool tydens ‘n 2024 diens by Sionspoort opgetree het, het die behoeftes van gehoorgestremdes toenemend onder die aandag van die kerk gekom.
Hulle smag daarna om aan ‘n erediens deel te neem en het die behoefte om ook die Boodskap van Hoop te ontvang. Navrae hieroor was ook volop,” het sy bygevoeg.
Sionspoort bied aan gehoorgestremdes die geleentheid om ‘n erediens by te woon wat op 30 Maart om 09:00 in gebaretaal vertolk sal word. Die gebaretaaltolk is Melinda Botha en die kerk sien uit daarna om hul eerste, volledig getolkte erediens aan te bied.
“Almal is welkom om die erediens by te woon. As daar genoeg belangstelling is, kan hierdie ‘n gereelde instelling word,” het sy afgesluit.
Navrae kan aan Sionspoort se kerkkantoor by 011 412 3163 gerig word.



