Roof en poging tot moord-voorval spook steeds by familie
Van vrees na veerkragtigheid: Die Lourens-familie probeer hul lewens weer op bou na 'n skokkende voorval.
Verlede jaar was Juan-Jacques Lourens en sy gesin die slagoffers van ’n poging tot moord en rooftog wat hulle met beide fisiese wonde en emosionele trauma gelaat het. Hulle fokus tans daarop om te herstel en hul lewens weer op te bou.
Op 9 Julie was Juan-Jacques, sy swanger vrou, Jodi, en sy ma, Elsabe, te voet op pad na die Westonaria-landdroshof. Tydens hul wandeling het hulle ‘n verdagte voertuig opgemerk. Ná hulle vreemde geluide gehoor het, het Juan-Jacques ‘n klip gegooi, waarna ‘n man agter die bosse te voorskyn gekom het.
Volgens Jodi was die man gewapen en het hy hulle beveel om te gaan lê. Sy vertel dat die vuurwapen onmiddellik op Juan-Jacques gerig is. Hy het Jodi en Elsabe aangesê om te hardloop.
Terwyl hulle probeer vlug het, het Elsabe haar enkel geswik en kon dus nie verder beweeg nie. Sy het gesien hoe die man haar seun in die linkersy skiet.
• Lees die oorspronklike artikel hier: Familie insluitend swanger vrou geteiken op pad hof toe
Jodi het bygevoeg dat die aanvaller ‘n tweede keer probeer het om op Juan-Jacques te skiet, maar die koeël het gelukkig net-net sy kop gemis. Daarna het die man sy wapen op Elsabe gerig, waarop sy besluit het om haar selfoon aan hom te oorhandig.
Tydens hul tweede vlugpoging het die man, volgens Jodi, in sy voertuig geklim en hulle probeer raak ry. Gelukkig het ’n ander motoris stilgehou om te help, en die gesin het veilig weggekom.
’n Saak van poging tot moord is by die Westonaria-polisie geopen.
Juan-Jacques se beserings was ernstig. Hy was vier maande bedlêend nadat die koeël een van sy spiere beskadig het.
Nou, sowat ’n jaar later, is sy gesondheid aansienlik beter. Hoewel hy nog sukkel om te loop, kan hy al ’n paar tree gee. Hy vertel dat die staatshospitaal se loopogram (‘n mediese beeldprosedure wat gebruik word om die urienweg te ondersoek) sedert Augustus verlede jaar buite werking is, en daarom dra hy steeds ’n stoma-sak (’n sakkie wat gebruik word om stoelgang op te vang).
“Ek sukkel om werk te kry as gevolg van my mediese toestand. Ek wil graag werk en vir my vrou en kinders sorg,” sê hy.
Die emosionele nagevolge bly egter steeds ’n stryd. Juan-Jacques is bang om die huis te verlaat of selfs net die erf skoon te maak. Wanneer sy pa van die werk af is, vra hy dat sy pa hom vergesel as hy êrens heen moet gaan.
Die familie glo steeds dat dit ’n huurmoordpoging was, met Juan-Jacques as die teiken.
“Ek glo hy was geteiken, want toe die man uit die bos gekom het, het hy die wapen onmiddellik op hom gerig,” het Jodi gesê.
“Ons leef steeds in vrees. Ek oorweeg dit om ’n vuurwapenlisensie aan te vra om my gesin te beskerm. Ons voel glad nie veilig in Randfontein nie. Ons wil graag Gauteng verlaat en na ’n ander provinsie verhuis vir ons veiligheid, maar ons finansiële omstandighede laat dit nie toe nie,” het Juan-Jacques verduidelik.



