Local news

Tannie Dirkie (95) deel resep vir ’n lang lewe

Dirkie Erasmus vier haar 95ste verjaarsdag en deel die eenvoudige geheim agter ’n lang, gelukkige lewe.

Dirkie Erasmus, die oudste inwoner van Vriendskap Tuiste, het op 14 Januarie haar 95ste verjaarsdag gevier – steeds met ’n vonkel in die oog en ’n liefde vir die lewe.

“Ek voel presies soos toe ek 60 was, net ’n bietjie stadiger. Verder het ek geen kwale nie,” het Dirkie met ’n glimlag gesê.

Sy het die spesiale dag saam met haar drie dogters en skoonseun tydens ’n feestelike ete gevier. Dirkie is ook die trotse ouma van 12 kleinkinders en 13 agterkleinkinders.

Sy woon al meer as 70 jaar in Randfontein, waarvan die afgelope 13 jaar by Vriendskap Tuiste. Nie alleen is sy die tehuis se oudste inwoner nie, maar ook die oudste lid van haar gemeente. Haar grootste passie is skilderkuns – ’n liefde wat sy eers op 60-jarige ouderdom ontdek het. Verskeie van haar kunswerke pryk tans teen die mure van die tehuis. Sy lees graag en sê met humor dat sy gelukkig steeds goed genoeg kan sien om te lees.

Volgens Dirkie lê die geheim vir ’n lang lewe in eenvoudige gewoontes.

“Ek lees elke aand my Bybel en bid, en dan drink ek my een glasie wyn,” deel sy grappenderwys. Haar werklike geheim, sê sy, is om geluk te vind in die klein dinge van die lewe.

Een van haar dierbaarste herinneringe is die dag toe sy by Vriendskap Tuiste ingetrek het.

“Dis my blyplek en my tuiste. Ek het hier soveel vriende gemaak. Ek was nog nie een dag spyt dat ek hier ingetrek het nie,” het sy gesê.

In 2008 het Dirkie haar man aan die dood afgestaan, nadat sy hom 10 jaar lank versorg het ná sy beenamputasie. Sy moes ook afskeid neem van haar oudste dogter, maar sê haar kinders bly altyd naby aan haar hart, al woon hulle ver.

Haar wens vir die toekoms is om nog een keer die see te besoek – ’n droom wat sy reeds beplan om in April saam met haar kleinkind te verwesenlik. Sy onthou steeds met ’n glimlag dat sy net twee jaar gelede nog self in die see geswem het.

Dirkie se raad aan die jonger geslag is eenvoudig maar vol wysheid: “Hê begrip vir oumense. Baie mense dink hulle gaan nie oud word nie, maar onthou, ons almal word oud.”

Sy het haar kinders drie belangrike lewenslesse voorgehou: wees dankbaar vir alles, groot en klein; wees altyd bedagsaam; en toon altyd respek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Chanté Bolton

Chanté Bolton started her journalism career at the Roodepoort Record in 2023. In February 2024, she joined the Randfontein Herald family. She received her BA in Communication from the North West University in 2021. In 2022 she received her BA Honours degree in English Language and Literature. Chanté wants to be the voice of the community.

Related Articles

Back to top button