’n Bederfdag van liefde en pret vir bejaardes
Met die ondersteuning van Staan Sterk in Afrikaans het Adonai NPO die inwoners van Renaissance Bejaarde Oord bederf met ’n dag vol musiek, lag en vreugde.
Adonai NPO, in samewerking met Staan Sterk in Afrikaans, het hul hande uitgereik na die inwoners van Renaissance Bejaarde Oord om ’n betekenisvolle verskil in hul lewens te maak.
Organiseerder Corrie van Loggerenberg het verduidelik dat sy deur ’n innerlike roeping gemotiveer is om die inwoners van die tehuis te bederf met ’n spesiale viering van Geloftedag en Christusfees. Die dag is gekenmerk deur spoggerige optredes van bekende kunstenaars, waaronder Ollie die singende nar, Boeboe van Vetkoekpaleis en Anton Fitchat.
Staan Sterk in Afrikaans het as borg opgetree en Anton het nie net die kunstenaars voorsien nie, maar ook ’n donasie gemaak om die dag tot ’n sukses te maak.

Tydens die geleentheid is trofees toegeken aan die wenners van Mnr en Mev Renaissance, asook die Paartjie van die Jaar. Daar is verder fondse ingesamel en aan die tehuis oorhandig.
“Die inwoners het die dag ontsettend geniet. My strewe is bloot om ’n verskil te maak in Randfontein en hulp te verleen waar daar behoefte is,” het Corrie gesê.

Anton het bygevoeg: “Dit was ’n groot eer en voorreg om saam met Adonai te werk en hierdie geleentheid moontlik te maak. Die dag was vol lag en pret om die bejaardes spesiaal te laat voel. Om te gee, is soveel beter as om te ontvang.” Hy het voorts elke betrokkene vir hul bydrae bedank.
Corrie het verder aangedui dat die organisasie nog nie presies weet wat vir die res van die jaar beplan word nie, maar dat hulle hoop om weer uit te reik en ander te ondersteun.



