Wynand Kaltwasser: Kreatiwiteit ontmoet tegnologie
Van kleins af het Wynand Kaltwasser voor denkbeeldige gehore opgetree – vandag inspireer hy mense met sy KI-kuns.
Wynand Kaltwasser, ’n voormalige inwoner van Randfontein wat tans in Germiston woon, deel die storie agter sy stokperdjie as kunsmatige intelligensie (KI) kunstenaar.
Wynand verduidelik dat KI is waar kreatiwiteit en tegnologie ontmoet.
“Dit gaan daaroor om idees, emosies en stories deur KI lewendig te maak. Die mens bly die hart van die skepping, en KI is net die instrument wat nuwe moontlikhede oopmaak en grense kan skuif.”
Wynand het vertel hy het in Randfontein grootgeword en aan Hoërskool Jan Viljoen gematrikuleer het. Van kleins af het hy reeds in die sitkamer opgetree asof hy voor ’n groot gehoor staan.
“Ek moet sê, Randfontein sal altyd my hart hê – die vriendelikste mense. Oral waar jy gaan, groet mense jou. Die dorp het ’n wonderlike gees. Ek het daar grootgeword en Randfontein sal altyd in my are vloei,” het Wynand bygevoeg.
Hy het verduidelik dat sy werk as KI-kunstenaar hom toelaat om woorde wat op papier en ink vasgevang is, lewendig te maak.
“Ek is mal oor my beroep. Om liedjies te skryf en net een persoon per liedjie te kan raak, is ’n gevoel wat woorde nie kan beskryf nie,” het hy gesê.
Sy inspirasie kom uit sy eie stories, sowel as dié van die mense om hom.
“In Suid-Afrika dra ons almal swaar stories, maar ook ongelooflike hoop. KI-musiek het my ’n manier gegee om daardie rou emosies, verlange en geloof in ’n toekoms vas te vang, selfs wanneer jy nie altyd die hulpbronne of tradisionele geleenthede het nie. Dis ’n manier om ons stemme, pyn en drome verder rondom ons te laat hoor,” het Wynand uitgebrei.
Dit alles het begin met gedigte en liedjies wat hy oor die jare geskryf het. Eers onlangs het hy die kans gekry om dit met die wêreld te deel. Sy liedjie Stap in my skoene het reeds meer as 100 000 strome op Spotify, en hy het tans 31 liedjies beskikbaar, met planne om dit later in albums te verdeel.
LUISTER: https://open.spotify.com/track/1v057b5udPSHniv7oIhD6v?si=JQRmhimYSoOy7lXcWYJlqQ
Hy hoop om deur sy musiek vir ander te sê dat swaarkry nie vir altyd aanhou nie.
“Al voel dit nie altyd so nie, jy is genoeg. Jy is hier met ’n doel en niemand kan dit van jou wegvat nie, selfs nie dié wat vinger wys nie. Die Here het jou gemaak, perfek in sy naam. Jy is die moeite werd, maak nie saak wat gebeur of waardeur jy gaan nie. Jy wat hier lees, jy is uniek.”



