IN FOTO’S: Vleisfees laat die kole behoorlik brand in Randfontein
Van vroegoggend tot vroegmiddag het Tuinhekkie behoorlik gegons van Vleisfees-vreugde.
As daar ooit ‘n bewys was dat Randfonteiners hul vleis ernstig opneem, was dit vandag by die sesde jaarlikse Vleisfees by Tuinhekkie.
Skaars het die son opgekom of honderde feesgangers het reeds ingestroom – almal met een doel voor oë: om die ‘vleis’ behoorlik in Vleisfees te sit.
En teleurgesteld was hulle beslis nie.

Die geur van houtskool en braaivleis het vroeg reeds oor Elandsvlei-hoewe gehang. Van sappige skaap op die spit tot krokodil wat stadig oor die kole gaar word – die braaie het behoorlik gewoel.
Met meer as drie spitbraaie was daar genoeg om selfs die grootste vleisliefhebber tevrede te stel.
Die Vleisfees bied egter veel meer as net kos. Kunstenaars soos Lisie Basson, Die Skemer en Shakira Peach het die verhoog laat lewe kry, terwyl sowat 300 stalletjies besoekers gelok het.
Of jy nou by Tannie Sara se vadoekstalletjie gestop, vir Oom Koos se biltong geswig of bloot tussen die stalletjies rondgesnuffel het, daar was iets vir elkeen.

Vir dié wat lus was vir iets anders, het die Gauteng Boogskietkampioenskappe nóg ‘n unieke element tot die dag se verrigtinge gevoeg.
Met heerlike kos, lewendige musiek, inkopies en volop gesinsvermaak is dit duidelik waarom die Vleisfees jaar ná jaar een van Randfontein se gewildste feeste bly.
Die fees duur nog tot laat vandag, so daar is steeds tyd om ‘n draai by Tuinhekkie te maak.
Sien nog fotos hier:













