Local news

Elivera se pad van Randfontein na die gereg

Van haar dae as Goudrand-leerder in Randfontein tot ’n senior staatsadvokaat, dra Elivera Dreyer die waardes van harde werk, selfstandigheid en geloof in haarself steeds saam.

As jong meisie het Elivera Dreyer nooit gedink sy sal eendag as ‘n staatsadvokaat in die hooggeregshof werk nie.

Elivera, wat tans by die Johannesburgse kantoor van die Direkteur van Openbare Vervolging werk, het in 1991 aan Goudrand gematrikuleer. Die skool het sedertdien met Riebeeck saamgesmelt en staan tans as Riebeeckrand bekend.

Elivera het in matriek nog nie geweet watter loopbaan sy wou volg nie en kon ook nie voltyds studeer nie. Op die dag van haar laaste matriekeksamen het sy egter gehoor dat sy ’n beurs van die Departement van Justisie ontvang het om regte te studeer.

Sy het op 2 Januarie 1991 haar loopbaan begin, haar B.Iuris-graad verwerf en in 1995 as staatsaanklaer begin werk. Sy het daarna haar LLB deur Unisa voltooi en is in 2004 as advokaat van die hooggeregshof toegelaat.

Vir Elivera is die waardes wat sy tydens haar grootwordjare in Randfontein geleer het, steeds ’n belangrike deel van haar loopbaan en die vrou wat sy geword het.

“My pa het ons baie selfstandig grootgemaak. Hy het by ons ’n goeie werksetiek ingedril en ook dat ons enigiets kan doen, selfs in ’n mansgedomineerde wêreld. My ouers het alles saam met ons gedoen en ons in alles wat ons aangepak het ondersteun. My pa was my groot inspirasie – hy het as werkende man met drie jong kinders sy droom verwesenlik om verder te gaan studeer. Hy het uiteindelik sy honneursgraad in sielkunde behaal,” noem sy.

Volgens Elivera was die regsberoep in die 1990’s steeds ‘n wêreld wat oorwegend deur mans oorheers is, en moes sy haarself herhaaldelik bewys.

“Vrouedag en -maand simboliseer vir my hoe ver vroue in die regsberoep gevorder het. Hoewel daar steeds ruimte vir verbetering bestaan, speel vroue vandag ’n betekenisvolle en invloedryke rol in die regstelsel,” sê sy.

Een van haar grootste loopbaanhoogtepunte was haar toelating as advokaat, wat haar die geleentheid gebied het om in die hoogste howe van die land aan te kla. Sy sê kleiner oorwinnings, soos die suksesvolle afhandeling van moeilike sake en die wete dat sy ’n slagoffer gehelp het, is egter net so betekenisvol.

Haar raad aan jong vroue is om hard te werk, voorbereid te wees, in hulself te glo en nooit hul menslikheid te verloor nie.

“Moenie jou uniekheid as vrou verloor omdat jy jouself met jou manlike kollegas vergelyk nie. Glo in jou vermoëns, omarm jou eie identiteit en moenie toelaat dat iemand jou aan jou waarde of potensiaal laat twyfel nie.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Heinrich Greyling

Heinrich Greyling is a LLB student, which gives him an eye in fairness towards everything he writes about, with a passion of uncovering the truth. If the relevant information is available, he is willing to help anybody, with a keen interest in hard, crime, entertainment, municipal, human interest and automotive journalism. He is a journalist who is willing to write about anything, no matter the controversy or risks involved.

Related Articles

Back to top button