Rekords spat by Rappies-huissport
... en Springbokke wen spanbeker, Elande die geesbeker.
Laerskool Rapportryer het die jaar se atletiekseisoen met ‘n jolige huissportbyeenkoms afgeskop.
Die skool se kinders is volgens hulle vanne in drie verskillende spanne ingedeel, naamlik die Elande, Springbokke en Koedoes. Die drie spanne se dirigente het leerlinge op die pawiljoene gemotiveer terwyl almal ‘n kans gegee is om deel te neem.
“Die kompetisie tussen die Springbokke, Elande en Koedoes was in ‘n baie goeie gees. Daar het ’n hele paar rekords gespat en ons sien uit na ’n suksesvolle atletiekseisoen in 2015. Die Graad 1’s het ook hul kant gebring en ek weet dat hulle ook wenners gaan wees. Dankie aan die ouers wat deur die stortreën en hael hul kinders so positief kom ondersteun het,” het Rappies se hoof, Carel Stoop gesê.
Die spanbeker is uiteindelik deur die Springbokke gewen terwyl die Elande met die geesbeker weggestap het. Die Junior Victrix Ludorum is Chané Viljoen en die Victor Ludorum is Jared Phillips.
Rekords wat verbeter is sluit in die hoogspring-item vir dogters o.13 met Nicole Erwee se sprong van 1,42 meter en Sandra Wijtenburg se haastige tyd van 2 minute en 26 sekondes in die 800 meter vir dogters o.13.
Die dogters o.12-gewigstootrekord is ook verbeter deur Ashley Steward se bielie van ‘n gooi van 7,85 meter. Hannes Strooh het ook ‘n rekord laat spat met sy blitsige tyd van 14,25 sekondes in die 80 meter hekkies vir seuns o.10.
Besoek ons gallery vir nog fotos.








