Witwarm welpie-aksie by Westgold
Talle skole se jong talent wys wat in hul steek tydens rugby- en netbaldag.
Laerskool Westgold het onlangs hul jaarlikse vriendskaplike welpierugby- en netbaldag aangebied.
Talle laerskole se rugby- en netbalspannetjies het Saterdag (28 Februarie) bymekaargekom om die seisoen op ‘n hoe noot af te skop. Alhowel dit nie juis oor wen of verloor gegaan het nie, het dit die jong spelers die geleentheid gebied om in die roetine te kom, speelkans te kry en hul talent te ontwikkel.
Die spelers, almal tussen die ouderdom van ses tot agt was so oulik mens kon hul opvreet.
Skole wat aan netbal deelgeneem het is Laerskool Westgold, Dr Havinga, Randfontein, Horison en Roodebeeck.
Meer skole het aan die rugby deelgeneem, naamlik Laerskool Westgold, Kenmare, Protearif, Roodebeeck, Rapportryer, Dr Havinga, Horison, Randfontein, Krugersdorp Noord en Bekker.
Laerskool Westgold se hoof, Koos Swart bedank al die skole vir hul deelname asook alle spelers wat hul hart uitgespeel het.
“’n Baie groot dankie ook aan al die onderwysers, organiseerders, mammas en pappas wat die dag moontlik gemaak het, sonder julle sou die jaarlikse gebeurtenis nie kon plaasvind nie,” het Koos gesê.








