Wat is rolbal nou eintlik?
Die President van die Randfontein Rolbalklub verduidelik vir ons wat rolbal is.
Rolbal word reeds sedert 1882 in Suid- Afrika gespeel, en die eerste rolbalbaan is destyds by ‘n klub by St Georges Park in Port Elizabeth aangelê. Maar wat is rolbal en hoe speel mens dit?
Rolbal is lankal nie meer net ‘n sport vir pensioenarisse nie, het die Herald op Saterdag, 11 Januarie uitgevind in ‘n gesprek met Vera Pretorius, die President van die Randfontein Rolbalklub.
Volgens Vera is baie jong mense deesdae by rolbal betrokke. “Die jong mense speel baie goed; ons jongste speler by die klub is 14 jaar oud.
Rolbal is ‘n gesinsport – pa, ma en die kinders kan saam daaraan deelneem. Dit word ook nie net oor naweke gespeel word nie, en daar is heelwat kompetisies om aan deel te neem.”
Vera het ook verduidelik hoe die sport gespeel word. “Dit word individueel of in spanne van twee, drie of vier spelers elk volgens streng reëls gespeel. Die baan is in ses verdeel, sodat ses wedstryde tegelyk gespeel kan word.
“Die bal het twee kante. Die een kant het ‘n groot sirkel en die anderkant het ‘n kleiner sirkel. Die een kant van die bal is swaarder as die ander kant. Die bal moet altyd gerol word met die kleiner sirkel na binne.
Die doel is om die bal so naby as moontlik aan die witte (kitty) – ‘n wit balletjie – te kry.
“Jy begin die wedstryd deur die wit balletjie oor die baan te rol. Die spanlid wie se bal die naaste aan die witte lê, verdien ‘n punt vir sy of haar span. Met ‘n enkelspel verdien die speler wie se bal die naaste aan die witte lê die punt.
“Die speler of span wat eerste 21 punte verdien, wen die wedstryd. ‘n Wedstryd duur gewoonlik tussen ‘n uur en ‘n uur en ‘n half,” het sy verduidelik




