Gholf en samesyn vir ‘n goeie doel
Gholfstokke het onlangs geswaai toe 80 ondersteuners by die Waterpan Gholfklub opgedaag het om gholf te speel, alles ten bate van dit wat die I Dare You Foundation nodig het en om hul ondersteuning te toon.
Die I Dare You Foundation het op Vrydag, 5 Maart hul Golf Day With a Cause by die Waterpan Gholfbaan in Westonaria gehou.
Volgens Barries Meintjies, een van die organiseerders het minstens 80 ondersteuners opgedaag om gholf te speel, alles ten bate van dit wat die stigting nodig het.

Barries het verduidelik dat hulle besluit het om die gholfdag te hou om fondse in te samel vir hul projekte waardeur hulle vier kinders help met mediese onkostes, asook 50 minderbevoorregte gesinne met kospakkies.
Hy het vertel dat alles goed verloop het en dat alle verwagtinge oortref is.

Dit was ‘n ongelooflike, lekker dag en dit kon nie beter gegaan het nie!” het Barries entoesiasties vertel.
Hy het genoem dat die gholfdag beslis ‘n jaarlikse instelling sal wees.
“Woorde is te min om ons dankbaarheid te toon, en sonder ons borge sou hierdie dag nie moontlik gewees het nie. Baie dankie ook aan elke liewe persoon en instansie wat ‘n bydrae gelewer het.”

Barries en die I Dare You Foundation sê spesiaal dankie aan Mapogo vir die musiek, asook vir Michael Grobler van Pest Control, Kenneth Motors, Windpomp Pub en Grill, Randgate Apteek, Gar Automotive Engineering (hoofborg), en West Rand Protein Feed & Fertilizer (hoofborg).




