Afrigter wil ringbal aan ander bekendstel
Angelique Marè is al vir 40 jaar by ringbal betrokke.
‘n Ervare ringbalspeler wat tans afrig het meer vertel van hierdie unieke sportsoort.
Die 55-jarige Angelique Marè het ringbal begin speel toe sy 10 was. Haar ouers het gespeel en was ook skeidsregters en vir haar, haar drie susters en twee broers was dit net natuurlik om ook by ringbal betrokke te raak.
Marè het verduidelik dat ringbal ‘n balsport naastenby soos netbal is. Anders as netbal word dit deur verskeie geslagte en alle ouderdomme gespeel.
“Die baan is in drie dele gedeel soos netbal, maar die spelers mag nie oor die bane beweeg nie. Daar is nege spelers in ‘n span, drie per blok – drie doelspelers, drie middelspelers en drie verdedigers.”
Volgens Marè is die doel van die sport om die bal van speler tot speler deur die lug tot in die doelblok te gooi. Hier moet die doelspeler die bal van buite die sirkel na die doelpaal gooi. Die doelspeler moet die bal met albei hande vashou terwyl sy/ hy na die doelpaal gooi.
Die ring van die doelpaal is groter as dié van ‘n netbalring omdat daar van verder af gegooi word. Wanneer ‘n speler die bal vir ‘n ander speler gooi, mag daar nie gemik word nie en die bal mag ook nie aan enige ander deel van die lyf raak nie. Net een skeidsregter is in beheer van ‘n wedstryd.”
Ringbal is ‘n gesinsport waaraan kinders van sewe jaar kan deelneem, en volwassenes tot op die ouderdom van 60. Dié wat ouer is word die oude meesters genoem.
Kenmerke van ringbal sluit in goeie sportmangees, goeie hand-oog-koördinasie, spanspelers, uithouvermoë, gewillig wees om te leer en selfbeheersing.

Hier is ‘n paar van Marè se prestasies:
• SA Ringbal Dames Uitnodiging – 2004
• SA Ringbal Dames President – 2005
• SA Veterane Dames 2007 – 2014
• Wes-Rand Distrik Dames A Spanbestuurder – 2022
• SA Ringbal Dames o.20 Uitnodiging Spanbestuurder – 2022
“Ek het vir Greenhills gespeel totdat ek in 2014 opgehou het weens ‘n besering. In 2020 het die voorsitter Stefanie Booyens my gevra of ek sou belangstel om die dames te kom afrig. Ek het nie regtig ooit gedink ek sou wou afrig nie, maar toe ek dit eers begin doen het ek besef ek hou baie daarvan en sal dit graag wil aanhou doen.
Ek hou ook daarvan om met kinders te werk en sou graag wou sien dat Greenhills weer jongmense kan kry wat ons kan grootmaak as die seniors van môre.”
Sy het vertel dat mens eintlik die hele tyd gedurende wedstryde afrig omdat daar altyd advies gegee moet word en aan ‘n wedstrydplan gewerk moet word.
“Ek is al 40 jaar by ringbal betrokke en ek het ‘n groot passie vir die sport, daarom is dit vir my baie lekker om hierdie ondervinding oor te dra aan nuwe spelers sowel as dié wat al langer speel.”



