Local sportSport

Tiffany staan sterk en voltooi Two Oceans

Plaaslike hardloper laat geen berg in haar pad staan om haar doelwit te bereik nie. Sy het die Twee Oceans aangepak en voltooi ter voorbereiding vir die Comrades in Junie.

RandMark-lid Tiffany van Loggerenberg het onlangs die gewilde Two Oceans Maraton in Kaapstad suksesvol voltooi.

• Also read: Husband and wife conquer the Two Oceans

“Dit is ‘n ongelooflike mooi wedloop en sonder twyfel die mooiste wat ek nog ooit gehardloop het. Een van die asemrowendste dele is wanneer jy Chapman’s Peak ophardloop, met die see aan jou linkerkant en die majestueuse berge aan jou regterkant. Daardie oomblik slaan my asem elke keer weg. Al is dit ‘n moeilike roete met uitdagende klimme, is dit absoluut die moeite werd.

Die natuurskoon, atmosfeer en ondersteuning langs die pad maak dit ’n baie spesiale ervaring,” het Tiffany verduidelik.

Sy het bygevoeg dat die eerste deel van die wedloop in die donker en tussen geboue was, maar die oomblik toe sy tussen die geboue uitgehardloop het, was die son op.

“Daardie uitsig het my hoendervleis gegee. Ek het die Here se teenwoordigheid só tasbaar ervaar in daardie oomblik. Dit was egter ook toe ek besef het daardie pragtige berge wat ek sien, moet ek nog uitklim!” het Tiffany gesê.

Sy het ook ervaar hoe ‘n skool dolfyne by Chapman’s Peak verby hulle swem.

Dit was werklik iets besonders en iets wat ek nooit sal vergeet nie,” het sy gesê.

Oor die wedloop het sy vertel dit was uitdagend, veral die einde. Tog het sy binne ses uur en agt minute dit voltooi.

“Ek het gebid en die Here het my die krag en vermoë gegee om aan te hou. Ek het ook goed voorberei maar ek dink ek het nie genoeg brandstof in my tenk gehad nie – my energie het so bietjie opgeraak aan die einde, maar dis hoe ’n mens leer. Bo alles besef ek net weer watter voorreg dit is om te kan hardloop en gesond te wees.”

Sy het gesê hoewel haar tyd nie haar oorspronklike doelwit was nie, is sy steeds trots daarop en op die feit dat sy twee minute vinniger as verlede jaar klaargemaak het. Vir haar is elke verbetering ‘n stap vorentoe. Sy het ook haar dankbaarheid uitgespreek vir die geleentheid om aan die maraton deel te neem.

Ter voorbereiding het Tiffany ‘n oefenprogram gevolg wat verskeie elemente ingesluit het wat nodig was vir die maraton. Elke week streef sy ook na ‘n kilometerdoelwit om te hardloop.

Tiffany van Loggerenberg tydens die Two Oceans Maraton. Foto ingestuur.

“Ek ondersteun my liggaam ook met die nodige aanvullings om gesond te bly en beter te herstel. Ek gebruik daagliks elektroliete, vitamienes en magnesium, wat veral help ná lang of intense sessies,” het sy gesê.

Tans berei sy voor vir die Comrades Marathon wat op 8 Junie plaasvind.

Daaroor het Tifany gesê, “Dit sal my heel eerste Comrades wees so ek is opgewonde en ook ’n bietjie senuweeagtig! Dis ’n groot mylpaal vir enige hardloper en ek sien uit om die uitdaging aan te pak.”

Haar raad aan ander wat ook aan ‘n maraton wil deelneem is om die nodige voorbereiding te doen.

“Dit maak ’n groot verskil as jy gereeld en volgens ’n plan oefen. ’n Belangrike les wat ek self geleer het, is dat maklike lopies dikwels die sleutel tot fiksheid is – jy hoef nie elke keer vinniger of harder te hardloop nie. Elke lopie hoef nie ’n persoonlike beste te wees nie.

Dit is net so belangrik om die proses te geniet en lief te raak vir die reis, nie net die einddoel nie.

“Doen dit saam met die Here! Tydens elke wedloop ervaar ek Sy teenwoordigheid op ’n tasbare manier en ek is altyd bewus daarvan dat ek dit nie uit my eie krag kan doen nie. Dis juis daardie ontmoetings met Hom en my afhanklikheid van die Here wat my dryf. Ek glo ook dat wanneer ’n mens die nodige voorbereiding doen, jou liggaam jou werklik kan verras. Die menslike liggaam is ongelooflik, maar dit is die geestelike krag wat alles bymekaar bring,” het Tiffany afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button