Local sportSport

Gholfdag ploeg terug

Met 160 deelnemers en ’n opwindende veiling, het Mapogo se gholfdag fondse ingesamel vir verskeie instansies in Randfontein en Krugersdorp by die Krugersdorp Gholfklub.

Gholfdae is altyd ’n geleentheid waar die gemeenskap saamkom vir samesyn en sportmangees – en Mapogo A Mathamaga se gholfdag by die Krugersdorp Gholfklub was geen uitsondering nie.

Volgens bemarkingsbestuurder Carike van der Merwe was die doel van die dag om op ’n prettige en informele manier fondse in te samel vir plaaslike geregistreerde liefdadigheidsorganisasies in Randfontein en Krugersdorp.

Terselfdertyd wou hulle ook ’n platform skep waar ondernemings mekaar beter kon leer ken, verhoudings kon versterk en samewerking kon bevorder.

Ons probeer om die fondse regverdig te verdeel tussen ’n wye spektrum van instansies, insluitend die Randfontein en Krugersdorp SPCA’s, verskeie skole, en kerklike organisasies in die omgewing,” het sy gesê.

Deelnemers het in vierballe ingeskryf, en aan die einde van die dag is ’n opwindende veiling gehou om die fondse verder aan te vul.

Carike het bevestig dat daar 160 deelnemers was – waarvan baie selfs die kompeterende aspek terdeë geniet het.

Wikus de Sousa ‘chip’ vir die setperk.

“Soos altyd was daar ’n paar skerp potlode op die telkaarte, maar die grootste wenner van die dag was beslis die veiling van jagnaweke en verskeie produkte, aangesien al die opbrengs ten volle geskenk is,” het sy gesê.

Sy meen die hoogtepunt van die dag was die gees van samesyn en die ongelooflike vrygewigheid van die deelnemers.

Dit was besonders om te sien hoe gewillig almal was om by te dra.”

“Ons is ongelooflik dankbaar vir die bereidwilligheid van soveel besighede en individue om ’n verskil te maak. Dit gee ’n mens hoop om te sien hoeveel mense nog omgee en aktief wil help om ander se laste ligter te maak,” het sy afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button