Span saam vir Toekies-rugby se sukses
Toekomsrus het sy eie rugbyklubs, en twee plaaslike spanne het op Jeugdag gewys wat in hulle steek tydens ’n vriendskaplike wedstryd.
Toekomsrus Lions en Faygee Boys, twee plaaslike rugbyklubs van Toekomsrus, het op 16 Junie (Jeugdag) kragte gemeet tydens ’n vriendskaplike wedstryd.
Fabian Wilson, stigter van Faygee Boys, het verduidelik dat dit oorspronklik ’n groter toernooi sou wees, maar dat dit toe in ’n vriendskaplike wedstryd verander het nadat die ander spanne nie kon deelneem nie. Die Toekomsrus Lions en Faygee Boys het dus hul vaardighede teen mekaar getoets, waar Faygee Boys met 36–23 geseëvier het.
Volgens Fabian is hul doel om ’n positiewe verskil in die lewens van jongmense te maak. Hy sien baie potensiaal in sy spelers, maar sê hulle benodig dringend ondersteuning, veral wat sporttoerusting aanbetref.

Saam met sy mede-stigter, Logan, help hulle ook jongmense deur hulle die basiese vaardighede van krieket aan te leer. Al die onkostes word egter uit hul eie sakke gedek, aangesien baie van die spelers se ouers werkloos is. Hoewel hulle fondsinsamelingsprojekte het, dek dit slegs basiese uitgawes soos toernooigelde, vervoer, kos en water.
Enige persoon wat belangstel om te help, kan vir Fabian kontak by 062 889 2066.



