Local sportSport

Volop aksie by nasionale vrystyl stoeitoernooi in Pretoria

Noord-Gauteng Stoei se hoofkwartier in Menlopark was die afgelope naweek weer die versamelpunt van stoeiers vanoor die hele land, toe die Suid-Afrikaanse Stoeifederasie se vrystyl kampioenskap vir o.17’s; o.20’s, seniors, vroue en meesters daar aangebied is.

Vir die tweede keer in bietjie meer as ’n maand het Suid-Afrika se stoeigemeenskap die afgelope naweek na Pretoria opgeruk om nog ’n nasionale kampioenskaptoernooi af te handel.

Kort op die hakke van die nasionale Grieks-Romeinse stoeikampioenskap, wat einde Mei in die saal van Noord-Gauteng Stoei in Menlopark aangebied is, het stoeiers vanoor die hele land én Namibië weer na Pretoria gereis vir nog ’n nasionalse kampioenskap.

Hierdie keer was dit die Suid-Afrikaanse Stoeifederasie se vrystyl kampioenskap vir o.17’s; o.20’s, seniors, vroue en meesters wat aan die beurt gekom het.

Altesaam 212 stoeiers het reeds vroeg Saterdagoggend ingeweeg om aan die kampioenskap deel te neem, wat ’n totaal van 277 stoeiwedstryde moes akkomodeer. Noord-Gauteng stoei se amptenare het weer bewys dat hulle waarskynlik nie hul gelyke het by die aanbieding van toernooie van hierdie omvang nie. Vier stoeimatte was in die saal beskibaar om regdeur die dag al die aksie te kon afhandel, terwyl daar weer van die mees moderne tegnologie gebruik gemaak is om alle tegniese en logistieke uitdagings die hoof te bied.

Hierdie kampioenskap bied ’n unieke ervaring, veral weens die feit dat die jongste stoeiers in aksie die o.17 deelnemers is. Die aksie is meer intens, veral weens die feit dat die stoeiers meer ervare is. Die toernooi is egter ’n openlike getuienis dat amateurstoei in Suid-Afrika gesond en groeiend is, ook onder die senior deelnemers.

Van die land se mees belowende jong stoeiers, sowel as ervare seniors en meesters het mekaar behoorlik op die stoeimat vasgevat in hul strewe na ’n nasionale titel, terwyl die keur van Suid-Afrika se vroue stoeiers ook in aksie was.

Terwyl Noord-Gauteng weer die meeste inskrywings by die toernooi gehad het, het dié provinsie oudergewoonte ook weer die meeste kampioene opgelewer.

– Die afgelope naweek se kampioenskap is steeds nie die einde van nasionale stoei-attraksie vir Pretoria nie, aangesien die bekende Big-5 Ope toernooi, wat waarskynlik die land se grootste amateur stoeitoernooi is, ook weer oor twee weke in die Rembrandt-saal op die Tuks sportkampus aan die beurt kom. Vanjaar sal dié toernooi vir die eerste keer oor twee dae aangebied word om die getalle te hanteer en dit beloof om weer ’n stoeifees sonder gelyke te wees.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button