News

Ná fietsry-ongeluk veg 70-jarige steeds terug

’n Ernstige fietsongeluk het Chris Lombard se lewe vroeër vanjaar onherroeplik verander. Sy regterbeen is vergruis, hy leef met voortdurende pyn en weet fietsry is iets van die verlede. Tog weier die 70-jarige om moed op te gee. Met geloof, familie en ‘n vasberadenheid om weer normaal te loop, bou hy stadig aan ’n nuwe

Vir Chris Lombard het die lewe ’n onverwagte draai geneem toe hy in laat-Maart vanjaar in ’n ernstige fietsongeluk in Waltloo in Pretoria-oos betrokke was.

Die 70-jarige Lombard is ’n afgetrede inligtingstegnoloog en oud-ingenieur wat steeds op kontrakbasis in die inligtingstegnologie bedryf werk, ’n pa en oupa, en vir meer as twee dekades ’n toegewyde fietsryer.

Die ongeluk het sy lewe onherroeplik verander en sy onafhanklikheid aangetas.

Tog praat Lombard nie hoofsaaklik oor wat hy verloor het nie. Hy praat oor die mense wat hom op die dag van die ongeluk gehelp het, sy kinders se liefde en ondersteuning en sy hoop om weer normaal te kan loop.

En hy het ’n treffende boodskap vir fietsryers en padgebruikers.

Vir Lombard was fietsry sy hele lewe en vir lank veel meer as ontspanning. Vir minstens 25 jaar het hy gereeld fiets gery en selfs sewe fietstoere gereël ten bate van Bybelverspreiding deur die Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Dié togte het hom en ander fietsryers oor ongeveer 1 200km van Lichtenburg na Mosselbaai geneem.

So onlangs soos 25 Januarie vanjaar het hy en sy seun, Dewald, nog die Midvaal Fast One-fietsrit oor 106km voltooi.

Chris Lombard het verskeie fietsritte ter wille van die Bybelgenootskap aangepak. Foto: Elize Parker

Min sou hy kon dink dat die rit een van sy laaste groot goue oomblikke in die saal sou wees.

Nou staan sy fiets stil op rollers binne sy huis.

Hy verduidelik die ongeluk het op pad huis toe vanaf sy werkplek in Waltloo in Pretoria-oos gebeur net na 11:00 op 18 Maart.

Hy het dié oggend besluit om met sy fiets werk toe te ry omdat dit ’n mooi sonnige dag was. Hy werk by ’n firma in Waltloo, waar hy soggens by die kantoor nodig is.

Hy het gewoonlik die sypaadjie, waar dit moontlik was, vir enige rit gebruik. Op die plek waar die ongeluk plaasgevind het in Waltloostraat, was hierdie gebruik van die sypaadjie egter nie ’n opsie nie.

Toe Lombard besef die vragmotor is te naby, was daar feitlik geen tyd om ’n uitweg te vind nie. “Dit het in elk geval so vinnig gebeur, toe ek besef die trok is te naby aan my, het ek net tyd gehad om te skreeu, ‘Wat maak julle nou?’,” vertel hy.

Die hoek van die agterste sleepwa van ’n interskakel-vragmotor het hom aan sy linkerkant getref. Die impak het sy liggaam in die rigting van die trok en die agterste wiele gestuur. Volgens kringtelevisiebeeldmateriaal is hy eers effens die lug in gestamp voordat hy voor die wiele beland het.

Die vragmotor het oor sy regterbeen gery. Sy gesig en kop is met slegs sentimeters gemis.

Lombard was nie bewusteloos van die slag nie. Sy eerste gedagte was dat ’n ander voertuig hom nog verder kon tref. Hy het homself met sy elmboë gedeeltelik uit die pad probeer trek.

Sy regterbeen was op vyf plekke gebreek, waaronder ’n oop breuk. Sy heup was ook gebreek.

Vir ongeveer vier maande was ’n loopraam en krukke deel van sy bestaan. Deesdae werk hy saam met ’n biokinetikus om sy been sterker te maak.

“Dit is my grootste wens en bede dat ek weer eendag net heeltemal normaal sal kan loop,” sê hy.

Hy leef tans met voortdurende, chroniese pyn. Tog het die ongeluk hom nie van sy geloof of sy vertroue in ander mense beroof nie.

Lombard beklemtoon dat daar steeds baie goeie mense in Suid-Afrika is. Hy onthou veral Ilse en Kiara Ferreira, ooggetuies wat hulle onmiddellik na hom toe gesnel het.

Na die ongeluk het ’n nog langer stryd begin. Lombard het ongeveer twee weke in intensiewe sorg deurgebring. Tydens sy eerste operasie het hy soveel bloed verloor dat sy hart gaan staan het.

Chris Lombard met van die medaljes wat hy oor die jare verwerf het op sy fiets. Foto: Elize Parker

Hy moes ongeveer ’n week wag voordat hy sterk genoeg was vir die tweede operasie.

Ná nog twee weke in die hospitaal is hy na ’n rehabilitasiesentrum oorgeplaas. Daar het intensiewe fisioterapie gevolg. Hy moes nie net fisiek herstel nie, maar ook leer hoe om sy veranderde omstandighede te hanteer. Daarna het hy nog ’n maand by sy seun, Dewald, en sy gesin gebly voordat hy na sy eie huis kon terugkeer.

Sy kinders was sy grootste bron van moed. “My kinders en hul eggenote het my absoluut deur hierdie tyd gedra. Dit was wat my moed laat hou het,” sê Lombard.

Omdat hy alleen woon, is sy kinders steeds bekommerd oor sy veiligheid. Sy huidige huis het baie trappe en dit het ’n ernstige probleem geword. Sy been kan soms onverwags ingee, en ’n val kan rampspoedig wees.

Ten spyte daarvan wil Lombard nie sy werk prysgee nie. Hy is amptelik afgetree, maar werk steeds op kontrakbasis met ’n firma se IT-behoeftes.

Hy het ook ’n eis by die Padongeluksfonds ingedien aangesien toekomstige mediese behandeling groot finansiële eise kan meebring.

Aan fietsryers sê hy hulle moet besef hoe maklik so ’n ongeluk kan gebeur. Hy waarsku dat fietsryers, ondanks hul regte op die pad, in ’n verkeersomgewing beweeg waar reëls dikwels verontagsaam word.

Aan motor- en vragmotorbestuurders vra hy eenvoudig om ander mense in ag te neem en nie onnodig naby fietsryers verby te gaan nie.

“As fietsryer is jy die mees kwesbare wese op aarde,” sê hy.

Bowenal is hy dankbaar vir sy geloof. “In die eerste plek wil ek die liewe Vader loof en prys dat ek Sy beskermde hand oor my kon beleef van die oomblik dat die trok my getref het,” sê hy. “Die wonderwerke het op daai oomblik begin en dit het nog nie opgehou nie.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button