Massa-braai ’n reusesukses
Honderd braaiers by 100 braaivure met 2 500 skaaptjoppies op die braairoosters het op 15 Oktober in die Moot bymekaargekom om honger te beveg.

Die geur van sappige skaaptjoppies op die vuur, die gesellige geknetter van houtskool en ’n klomp braaitange wat gelyk aan die werk spring: só het ’n besondere gemeenskapsinisiatief op 15 Oktober gewys wat moontlik is wanneer mense en ondernemings hande vat.
Altesaam 100 braaiers moes op die wam dag saam 2 500 skaaptjoppies gaarmaak tydens die massabraai wat met die HelpJag-inisiatief en Solidariteit Helpende Hand vir die tweede keer in Pretoria in Derdepoort in die Moot aangebied is.
Die vleis was egter nie vir ’n feesmaal bedoel nie. Ná afloop van die geleentheid is dit verpak en geskenk aan 21 ouetehuise, kosblikkie-skole en ander organisasies wat kos aan kwesbare mense voorsien.
Toe James Kemp van Pretoria FM kort voor 14:00 aankondig dat die 2 500 rou tjoppies almal gelyk op die vuur is, was dit die teken waarop die braaiers gewag het.
Volgens Margolé Riekert, hoof van projekte by Solidariteit Helpende Hand en landswye projekorganiseerder van HelpJag, verdien almal wat die inisiatief ondersteun het, erkenning. Sy het veral Boerboel Wear bedank omdat die onderneming Buffelsfontein Brandewyn se uitdaging verlede jaar aanvaar het.
HelpJag mobiliseer die jaggemeenskap en ondersteuners om wildsvleis in te samel, te laat verwerk en aan behoeftige instansies te versprei.

Die Oktober-massabraai sluit by dié groter poging aan om voedsame proteïene beskikbaar te stel waar dit nodig is.
Die vleis wat tydens die geleentheid voorberei is, is volgens die versoeke van die ontvangende ouetehuise en organisasies verpak.
Buffelsfontein Brandewyn het Boerboel Wear verlede jaar uitgedaag om vanjaar se braai groter aan te pak.
Volgens Ichnus Wait, woordvoerder vir Buffelsfontein, het die vorige jaar se ervaring gewys hoeveel bereik kan word wanneer ondernemings saamwerk.
Toe is 2 000 tjoppies gebraai; dié keer is die uitdaging tot 2 500 gerek.
“Ons het verlede jaar gesien hoeveel ons kon bereik om honger mense te help en daarom het ons Boerboel uitgedaag,” het Wait gesê.
Hy het bygevoeg dat die onderneming hoop dat ’n toekomstige borg die uitdaging weer sal aanvaar en moontlik die mikpunt tot 3 000 tjoppies sal opstoot.
Meyer le Roux van Buffelsfontein Beesboerdery was onder die braaiers wat self agter die vure ingespring het. Die dag het dus nie net om borgskappe en groot getalle gedraai nie, maar ook om mense wat bereid was om hul moue op te rol en die werk te doen.
Stephan Hugo Botha, mede-eienaar van Boerboel Wear, sê die onderneming het die uitdaging met ope arms aanvaar. Sy maatskappy werk reeds ‘n geruime tyd saam met Helpende Hand en wou graag bydra tot die inisiatief.

“Voedselsekerheid is iets waarvoor ons almal ons deel moet doen, maar ons moet ook vandag aan die boere dink wat vir hierdie sekerheid moet sorg,” het Botha gesê. Hy het beklemtoon dat sy maatskappy groot waardering vir boere het en dat die geleentheid ook ’n manier was om dankie te sê vir hul bydrae.
’n Groot braai verg natuurlik meer as vleis en braaiers. Bosveld Charcoal van Centurion het 400kg houtskool en brandaanstekers geskenk om die vure aan die gang te hou en die groep Jan Jan Jan was daar om musiek te verskaf.
Johan du Buisson van Bosveld Charcoal het gesê dit is goed om by ’n projek betrokke te wees wat help om honger te bekamp. Die onderneming se bydrae het gehelp om die praktiese vereistes van die massabraai te ondersteun.
By die geleentheid het Elize Bezuidenhout, sentrumbestuurder van Solidariteit Helpende Hand se Ons Plek in Derdepoort, gesorg vir ’n stewige pot pap en smoortjie. Die bykosse het die maaltyd afgerond en gewys dat ’n groot ete ook deeglike voorbereiding en spanwerk verg.
Met die laaste tjoppies gaar en die vleis gereed om verpak te word, was die dag se werklike doel bereik. Verteenwoordigers van organisasis het die verpakte vleis kom afhaal en na talle buurte in Pretoria vertrek om ‘n stewige aandmaal te verskaf.
– Kliek hier om ‘n video van die massabraai te sien:
– Kliek hier om Jan Jan Jan se optrede tydens die massabraai te sien:
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
