Ouma vergesel kleinseun na matriekafskeid
Dit is seker die eerste keer dat 'n leerling sy ouma na sy matriekafskeid vergesel.

Dit was ‘n voorreg en ‘n groot eer vir ouma Toelie Schoeman om saam met haar kleinseun Gert na sy matriekafskeid te gaan.
Dit is seker die eerste keer dat ‘n leerling sy ouma na sy matriekafskeid vergesel.
Schoeman, wat in Hoërskool Tuine Tegnies is en in Danville woon, het baie mense verbaas toe hy verlede Donderdagaaand by sy matriekafskeid opdaag saam met sy ouma wat in die Emily Hobhouse Tehuis in Capital Park bly.
Die onderwysers en sommige van die leerlinge het gedink dat dit oulik was van Gert om sy ouma saam te bring na die afskeid. Die paartjie het albei pragtig gelyk in pers en swart. “Hy het my verlede jaar gevra om hom te vergesel, maar ek het hom nie ernstig opgeneem nie en ek het gedink dat hy ‘n oulike meisie sou kry voor die tyd. Twee weke terug het hy my weer kom vra om sy metgesel te wees en ek het ingestem,” het ouma Toelie glimlaggend gesê.
Schoeman het aan Rekord vertel dat hy enige meisie na sy matriekafskeid kon neem, maar omdat hy ‘n Christelike seun is, wou hy verkeerde dinge vermy en hy het besluit om sy ouma te neem.
“Ek het nie myself bekommer oor wat mense sal sê nie. Daar was mense wat grappies gemaak en agter my rug gepraat het, maar hul woorde het my sterker gemaak,” het hy gesê.
Ouma Toelie het gesê sy was so gelukkig maar wel senuweeagtig, maar haar kleinseun en die leerlinge wat by hulle aan tafel gesit het, het haar laat tuis voel. “Ek het gaan sit en Gert het my kos vir my gebring, soos ‘n ware gentleman.”
Niemand het vooraf geweet Schoeman bring sy ouma Toelie na sy matriekafskeid toe nie. Vir die twee was die belangrikste aspek dat hulle hulself geniet het.
