News

Oorlewingsverhaal bring hoop na verhoog

Kankeroorwinnaar en skrywer Ronellé Foster deel op 9 Mei haar aangrypende verhaal by Ons Plek in Derdepoort. Haar eerlike vertelling oor leukemie, geloof en oorlewing bring inspirasie en hoop terwyl fondse ingesamel word vir gemeenskapsprojekte.

Op 9 Mei gaan die saal by Solidariteit Helpende Hand se Ons Plek in Derdepoort, East Lynne, gevul wees met stories van hoop, humor en oorlewing wanneer Ronellé Foster die verhoog betree vir ’n fondsinsamelingsoptrede.

Haar optredes is eerlike vertellings van hoe ’n lewensbedreigende diagnose haar perspektief, identiteit en uiteindelik haar roeping verander het.

Foster, oorspronklik van Malmesbury en nou gevestig in Somerset-Wes, beskryf haarself as iemand wat “’n mooi Malmesbury-Afrikaans praat” en lief is vir wintersaande voor die kaggel.

“Ons is almal kaggel-mal,” lag die spontane en vrolike ma van twee seuns, Alec (20) en Dewald (22).

Maar in die begin van 2020 het haar lewe ’n onvoorsiene draai geneem.

’n Aanhoudende moegheid het haar oorval. Sy het dit afgemaak as deel van die algemene uitputting tydens die begin van die Covid-19-pandemie.

“Almal was mos moeg in daardie tyd, so ek het nie gedink dit is iets ernstig nie,” vertel sy.

Die simptome het egter vererger. Sy het vir maande aaneen gemenstrueer en het uiteindelik ’n dokter besoek vir wat sy gedink het ’n roetine-ondersoek sou wees.

“My papsmeer was normaal, maar ek het terloops genoem dat my tandvleis vreemd terugtrek. Dit was daardie opmerking wat alles verander het,” sê sy.

Binne ure is verdere toetse gedoen en kort daarna is sy dringend in die hospitaal opgeneem.

“Ek het die verkeerdste ding gedoen en vir dokter Google gevra wat aangaan. Dit het vir my gesê ek het drie maande oor om te leef. Dit was die laaste keer wat ek hom geraadpleeg het,” vertel sy.

Die diagnose was akute mieloïede leukemie (AML), ’n aggressiewe kanker van die bloed en beenmurg.

Sy onthou hoe vinnig alles gebeur het. “Skielik sit ek in ’n hospitaalbed en hoor ek het ’n lewensbedreigende siekte.”

Wat gevolg het, was maande van intensiewe behandeling, insluitend chemoterapie en uiteindelik ’n beenmurgoorplanting.

Sy beskryf die ervaring as fisiek en emosioneel uitmergelend.

“Met die behandeling het die velle van my hande afgekom. Ek was vier maande lank in die hospitaal. In ’n stadium het ek net 40kg geweeg.”

Sy voeg by dat die proses haar identiteit diep geraak het. “Dit is ’n moeilike siekte, want dit vat nie net jou liggaam nie. Dit vat aan wie jy dink jy is.”

Tog was daar oomblikke wat sy vandag as keerpunte beskou.

“Die eerste aand in die hospitaal het ek ’n visioen van die Here gehad: dat ek ’n 100%-pasmaat vir ’n beenmurgoorplanting gaan kry, en dat dit my suster gaan wees.”

Haar suster, Amanda Reynolds, wat in Australië woon, was inderdaad ’n perfekte pasmaat, iets wat statisties skaars is.

“Die kans om ’n pasmaat te kry en so gou ook, is een uit 100 000, en tog was sy myne.”

Haar suster moes van Sydney af reis, en die prosedure self was vir Foster onbekend en intimiderend.

“Ek het niks daarvan geweet nie, maar dit is eintlik soos ’n bloedoortapping. Dit klink dalk ingewikkelder as wat dit is, maar dit red lewens.”

Deur alles het sy ’n eenvoudige leuse vasgehou: “Be positive.”

Sy verduidelik dat hierdie ingesteldheid haar gehelp het om perspektief te behou.

“Ek het vir myself gesê my kanker is iemand anders se egskeiding of iemand anders se hartseer. Dit is nog ’n vorm van lyding. Ek wou nie hê dit moet my definieer nie.”

Een van die mees aangrypende dele van haar verhaal is dat sy uiteindelik die enigste oorlewende was van ’n groep van 17 pasiënte wat terselfdertyd behandel is.

“Teen die einde van 2025 was ek die enigste een wat oor was. Dit gee jou ’n nuwe respek vir jou liggaam en vir lewe self.”

Ronellé Foster en haar katjie, Charlie, tydens behandeling. Foto: Verskaf

Haar herstelpad was lank en uitdagend. Sy beskryf dit as haar ‘Mount Everest’.

Tog het hierdie tyd ook iets nuuts in haar wakker gemaak, ’n begeerte om haar storie te vertel.

Dit het gelei tot die skryf van haar boek, Kanker het my lewe gered. Haar swaer, Gerjo Ben van der Merwe, het met die skryf van die boek gehelp.

“Ek het altyd gesê ek wil ’n boek skryf, maar nooit gedink dit sal só gebeur nie. Hierdie ervaring het my lewe omgedraai en my op ’n nuwe pad gesit as skrywer,” sê sy.

Sy het hulp gekry om die projek te voltooi, maar beklemtoon dat die verhaal rou en eerlik uit haar eie belewenis kom.

Sy praat ook openlik oor die impak van haar siekte op haar gesin. Haar eggenoot, Alex, en twee seuns, moes saam met haar deur die onsekerheid en trauma werk.

“’n Diagnose soos hierdie raak nie net die pasiënt nie. Dit raak almal rondom jou. Ons moes as gesin leer hoe om saam deur dit te werk.”

Vandag is sy leukemie-vry en fokus sy daarop om ander te inspireer. Haar boodskap is nie simplisties of oppervlakkig nie; dit is gegrond in die werklikheid van pyn en herstel.

“As ek humor en hoop kon vind in daardie donker tyd, glo ek ander kan ook,” sê sy.

Haar optrede by Ons Plek vorm deel van ’n fondsinsamelingsinisiatief om gemeenskapsprojekte te ondersteun. Die oggend beloof om nie net insiggewend te wees nie, maar ook diep menslik.

Sy deel haar storie met ’n kombinasie van eerlikheid en ligtheid en gebruik dikwels humor as manier om swaar temas toeganklik te maak.

Vir die gehoor wag daar meer as net ’n getuienis van oorlewing. Dit is ’n uitnodiging om anders na uitdagings te kyk.

“Jy leer baie van jouself wanneer alles van jou weggeneem word,” sê sy. “En soms ontdek jy dat jy sterker is as wat jy ooit gedink het.”

Vir meer inligting, kontak Elize van Ons Plek by 082 772 1821.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button