CrimeLocal newsNews

Geliefde hond met windbuks doodgeskiet

'n Prokureur van Montana gaan regstappe neem nadat iemand haar dachshund koelbloedig geskiet en verlam het en 'n veearts die beseerde hond moes uitsit.

‘n Welbekende prokureur in die noorde van Pretoria gaan regstappe neem nadat haar dachshund koelbloedig geskiet en verlam is.

Mercades Schoeman van Montana se huishulp het Maandag haar gekontak en gesê dat haar geliefkoosde worshond, Peanut, in haar agtererf bebloed lê.

“My huishulp was histeries en het gemeld dat my hond besig is om dood te bloei.”

Schoeman het onmiddelik huis toe gejaag en die nog-lewende, maar bebloede hond veearts toe gevat.

“Die moeilikste was toe ek vir Peanut optel en hy my benoud in die oë kyk en nie weet wat aangaan nie.”

Die veearts het die beseerde hond, wat intussen baie bloed verloor het, gestabiliseer, maar het toe gevind dat Peanut verlam is.

“Peanut kon nie gewig dra op beide sy agter- en voorbene nie. X-strale is geneem en ‘n koeël kon baie duidelik gesien word in die laaste nekwerwel,” het die veearts, dr Marianne Vermooten, gesê.

Die hond is na ‘n chirurg verwys wat, as gevolg van die rugmurg skade, eerder genadedood voorgestel het, waarna Peanut Dinsdag uitgesit is.

“Ek was langs hom in sy laaste oomblikke. Hy was baie benoud oor hy nie kon beweeg nie, maar ek het deurentyd met hom gepraat en hom getroos.”

‘n Hartseer en woedende Shcoeman het aan Rekord vertel dat Peanut nie net ‘n hond was in haar gesin nie, maar dat hy hulle kind was.

“Ek is ongelooflik hartseer en terselftetyd kwaad.”

Sy het gesê sy vermoed dat die skuldige ‘n wrede persoon is wat naby haar woon en dat sy dié mense al betrap het waar hulle haar honde terg.

“Die persoon wat hierdie ding gedoen het, weet nie watter onreg hulle my aangedoen het nie. Dit is wreed en die skuldige verdien om tronk toe te gaan.”

‘n Windbukskoeël is in Peanut se nekwerwel gevind.

Polisie woordvoerder, Mirna Von Benecke het Donderdag bevestig dat die afvuur van vuurwapen in publieke area ondersoek word.

Schoeman het vertel dat sy beoog om ook ‘n siviele saak te open teen die skuldige.

Rick Allan, uitvoerende hoof van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) het gesê dat die DBV ook ondersoek gaan instel.

Allan het vertel dat daar ongeveer drie gevalle ‘n maand gerapporteer word by die DBV van mense se diere wat geskiet word.

Hy het bygevoeg dat dit onwettig is om ‘n windbuks in ‘n publieke area af te vuur.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button