Vier brand dood in motor
Terwyl vier mense in 'n motor doodbrand, kon omstanders net magteloos toekyk
Motoriste en noodpersooneel het Saterdag magteloos gestaan en toekyk terwyl vier mense in ‘n motor doodbrand.
“Ek kan nie die gevoel van magteloosheid beskryf nie. Jy wil help, maar jy kan nie.”
So het Cobie van Rensburg, ‘n lid van die Pretoria-Noord se sektor 3-polisiëringsforum vertel van die grusame toneel in Soutpanweg naby Onderstepoort.
‘n BMW 525i het vermoedelik Saterdagmiddag omstreeks 13:00 kop-aan-kop met ‘n vragmotor gebots. Twee ander voertuie het agter in die vragmotor vasgejaag.
Volgens Riana van Aarde, Akasia-polisiestasie se woordvoerder, is vier mense tydens die ongeluk dood en 11 ander beseer.
Van Rensburg het gesê toe sy op die toneel aankom, was die BMW en die trok se kajuit in vlamme gehul. Die vlamme was hoër as ‘n tweeverdieping gebou.
Sy het gesê dat hulle die BMW se insittendes se gille om hulp gehoor het, maar dat hulle nie naby genoeg aan die voertuig kon kom om die brand te blus nie.
Van Rensburg het vertel dat verskeie mense hulp wou verleen, maar dat dit net nie moontlik was nie.
Die ambulanspersoneel en brandweer het kort na Van Rensburg by die toneel aangekom en die vlamme geblus en die beseerdes behandel.
Van Aarde het vertel dat die vier in die BMW nog nie uitgeken is nie.
Sy het gesê dat sy baie trots is op die polisiëringsforum en die nooddienste vir hulle vinnige en effektiewe hulp tydens die ongeluk.
“Ek is baie dankbaar vir die radionetwerk van Pretoria-Noord sektor 3 polisiëringsforum. Dit het dit moontlik gemaak dat ons dadelik met al die lede in verbinding kon tree om soos een goed-geoliede masjien die verkeer by die toneel te beheer en om hulp te verleen.”
