Local newsNews

Dozi sal nóóit Afrikaans verruil

Dozi het gerugte dat hy minder in Afrikaans en meer in Zoeloe wil sing, ontken.

Die Ou Ryperd-sanger, Dozi, het aanhangers hierdie week verseker dat hy nooit sal ophou om in Afrikaans te sing nie.

Onlangse gerugte dat Dozi eerder in Zoeloe as in Afrikaans wil sing, is deur sy publisiteitsbeampte van die afgelope 18 jaar, Lydia Winchester, as ‘absolute nonsens’ afgemaak.

Winchester het aan Rekord gesê Dozi beplan nie om Afrikaans vir Zoeloe te verruil nie en sal ook nie uitsluitlik in Zoeloe sing nie.

“Hoewel Dozi beplan om binnekort ‘n Zoeloe-gospelalbum op te neem, sal hy altyd Afrikaanse liedjies bly sing,” het Winchester gesê.

Dozi het aanhangers ook Dinsdag op sy Facebookblad gerus gestel: “Vir almal wat my ken, na my musiek luister en my loopbaan volg, hier is my weergawe van die verdraaide rumour: NEE!!! Ek gaan nie ophou Afrikaans en Engels sing nie – my volgende CD is nét Zoeloe.

Dozi het ook sy rede daarvoor gegee: “Ek doen dit seker maar omdat ek kan en my heel eerste CD in Zoeloe was. Baie van my fans vra daarvoor en ek is lus vir so projek.”

Dozi se eerste album, Mercy, óók ‘n Zoeloe-gospelalbum, is in 1999 vrygestel. Dié krullebol met sy geliefde rasperstem het roem vir sy Afrikaanse, Engelse én Zoelieliedjies verwerf.

Dozi tree elke Sondag by Back To The Roots by Hartbeespoortdam saam met ander bekendes op.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Back to top button