Bejaarde met strykyster gemartel, hond se rug gebreek
'n Bejaarde man is in die hospitaal opgeneem nadat hy deur vier rowers oorval en gemartel was.

‘n Bejaarde man is Maandag erg beseer toe vier rowers hom op sy kleinhoewe in die Boschkop-omgewing oorval en gemartel het. Hy word in die hoësorgeenheid van die Wilgers-hospitaal behandel.
Die 77-jarige man is met ‘n strykyster gebrand en sy waghond moes deur ‘n veearts van kant gemaak word nadat die aanvallers hom seergemaak en sy rug gebreek het.
Polisiewoordvoerder Kaptein Marissa van der Merwe het gesê die man is omstreeks 06:00 die oggend op sy kleinhoewe in Tweedracht oorrompel terwyl sy hond kos gegee het.
“Hy is na sy slaapkamer gedwing waar die mans hom met ‘n vuurwarm strykyster oor sy lyf gebrand het,” het Van der Merwe gesê.
Die rowers het vuurwapens uit ‘n kluis gebuit en waardevolle items in die man se voertuig gelaai.
Hulle het te voet gevlug nadat iets hulle vermoedelik gesteur het.
“Ons vermoed hulle het dalk gevlug toe die huishulp kort ná die aanval vir werk opgedaag het. Sy het die bejaarde man in die kamer gevind en die polisie gebel,” het Van der Merwe gesê.
Liters brandstof wat in die kamer uitgegooi is, dui daarop dat die aanvallers moontlik die man in sy kamer aan die brand wou steek.
Dit volg nadat ‘n 81-jarige vrou dood is en haar man erg beseer is nadat rowers hulle met ‘n hamer en strykyster op hul kleinhoewe in Shere aangeval het.
Vir meer nuus, volg ons op Twitter of besoek ons op Facebook.
Lees ook:
