Ses skole loop onder diefstal deur
Ses Moot skole is in die afgelope maand deur sogenaamde ‘daksnyer’ diewe geteiken. Derduisende Rand se waardevolle besitting is gesteel. Polisie maan skole om op hul hoede te wees.
Nie minder as ses skole in die Moot het onder diefstal deurgeloop die afgelope maand.
Derduisende rande se tablette, rekenaars en geld is gesteel.
Laerskool Generaal Jacques Pienaar was die jongste slagoffer nadat die sogenaamde ‘daksnyer’ diewe in die vroeë Dinsdagoggendure toegang tot die skool gekry het. “Gelukkig het ons alarmstelsel gekeer dat hulle met iets wegloop,” het Dawid Schoeman, skoolhoof, gesê.
Die inbraak het omstreeks 04:30 plaasgevind.
“Die diewe was by die graad R-klasse doenig en was besig om ‘n televisie uit te dra. Gelukkig is hulle in hul spore gestuit. Daar is wel sowat R5 000 se skade soos wat hulle in die skool probeer kom het.”
Adjudant-offisier Wanda Olivier, woordvoerder van Wonderboompoort-polisie, sê die saak word ondersoek. Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie.
Ander skole wat onder diefstal deurgeloop het, sluit in Laerskool Pierneef, Laerskool Queenswood, Laerskool Derdepoort, Laerskool Nellie Swart en Laerskool Toitusdal.
Frik Greyling, hoof van Laerskool Pierneef, het gesê hulle skool is Sondagoggend besteel.
“Ons het ongeveer R200 000 se verlies ná die diefstal. Dit sluit nie die herstelkoste of die 40 tablette wat gesteel is in nie,” het hy gesê.
Hy het gesê die polisie moet ‘n punt daarvan maak om verby die skole te ry, veral noudat hulle so geteiken word.
Laerskool Queenswood is ook in die vroeë Maandagoggendure besteel.
Die kluis is met ‘n hoekslyper oopgesny en 40 rekenaar-tablette tesame met sowat R40 000 in kontant en vyf rekenaarbokse is weggedra.
Die departement van onderwys het vroeër die jaar 88 000 tablette aan verskeie staatskole in Gauteng verskaf wat deel van die departement se e-Learning Solution-inisiatief uitmaak.
Die bekendstelling van die e-Learning
Solution tablette is eerste aan graad 4- tot graad 9-leerlinge uitgedeel.
“Ons is bewus van die verskeie diefstalle en is vreeslik bekommerd, veral oor die aantal skole wat geteiken word,” het Phumla Sekhonyane, woordvoerder van die Gauteng Departement van Onderwys, gesê.
Sy sê hoewel die skole alarmstelsels het, beoog hulle om ‘n taakspan na die skole te stuur om te kyk hoe hulle die sekuriteit kan opskerp.
Kaptein Coba Brits, woordvoerder van die Villieria-polisie, het gesê vyf van dié skole val binne hierdie polisiekantoor se gebied.
“Dit lyk asof dieselfde modus operadi gebruik word. Die diewe ontkoppel die skool se alarmstelses en kameras. Hulle klim dan deur die dak en gebruik ‘n hoekslyper om die kluiste oop te sny. Hulle maak dan skoonskip met tablette, rekenaars en geld,” het sy gesê.
Sy maan die skole om hulle alarmstelses op te gradeer om nie net waardevolle toerusting te beskerm nie, maar ook die personeel en leerlinge.
Vir meer nuus, volg ons op Twitter of besoek ons op Facebook.
