CrimeLocal newsNewsUpdate

Bok-speler besig om te herstel ná mislukte kapingspoging

'n Bekende oud-rugbyspeler is besig om te herstel nadat hy erg beseer is toe ses mans sy voertuig in Waterkloof probeer kaap het.

Die oud-Springbokrugbylegende Hannes Strydom (49) is Dinsdagaand na ‘n gewone saal in die Little Company of Mary-hospitaal geskuif nadat hy vir ‘n dag in die hoësorgeenheid met ‘n gekraakte skedel opgeneem was.

Rekord het vroeër berig dat Strydom Maandag deur ses skurke met klippe bestook is toe hulle sy voertuig in Waterkloofrif probeer kaap het. ‘n Klip het die linkerkant van sy kop getref en sy skedel gekraak.

Hy is ook deur een van die kapers met ‘n skroewedraaier gesteek.

Riaan van Zyl, familiewoordvoerder, sê dit gaan goed met Strydom en dat hy gereeld praat oor die kapingspoging, waarvan hy byna alles kan onthou. “Hy is ‘n sterk man en ons glo dat hy vinnig sal herstel.”

Strydom het Woensdag ‘n CT-skandering ondergaan omdat dokters vermoed het daar kon dalk iets fout wees met sy kakebeen. Die uitslag is egter nog onbekend.

Strydom was Maandag omstreeks 16:00 van Groenkloof af op pad na Irene toe twee mans voor hom in Ariesstraat naby die Waterkloof-golfbaan spring en beduie dat daar iets in die pad is.

Strydom het stadiger gery sodat hy nie die twee mans met sy Toyota Prado sou tref nie.

“Die mans het ‘n klip byna so groot soos ‘n baksteen na die voertuig gegooi in ‘n poging om die ruit te breek. ‘n Tweede baksteen het gevolg, deur die passassiersruit gevlieg en Hannes hard teen die kop getref,” het Van Zyl gesê.

“Vier ander kapers het uit die bosse gespring en een van hulle het saam met Hannes in die voertuig gespring en sy sleutels probeer gryp.”

Van Zyl sê Strydom, wat in daardie stadium half bewusteloos was, het terugbaklei en die kaper ‘n paar keer met die vuis bygedam. Die mans het vermoedelik geskrik en gevlug. Hulle het die sleutels gesteel, maar die voertuig met Strydom daarin net daar gelos.

Van Zyl het ‘n bebloede Strydom aangetref na dié hom gebel het en hom na die hospitaal gehaas.

Strydom se skedel is van die boonste punt van sy kop tot by sy neus gekraak. Volgens Van Zyl sal hy later plastiese sjirurgie moet ondergaan om die groot kopwond te herstel.

“Hy is gelukkig stabiel en die neurosjirurg is tevrede met sy vordering,” sê Van Zyl.

Strydom het as Springbokslotslot in die 1995-rugbywêreldbeker uitgedraf. Hy het 21 toetswedstryde vir die Springbokke gespeel en is die enigste oud-rugbyspeler van dié span wat nog in Pretoria woon.

Vir meer plaaslike nuus, besoek Rekord se webtuistes:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook Rekord op Facebook of volg ons op Twitter.

Lees: Rugby-legende se skedel kraak toe kapers hom met klippe gooi

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button