‘n Slenter deur sogenaamde metro-werkers om geld uit inwoners te kry, het hierdie week in Sinoville aan die lig gekom.
Die “metro-werkers” het ‘n brief in die Montana omgewing uitgedeel, wat kamma dien as ‘n waarskuwing dat inwoners se krag afgesny sal word as hulle nie ‘n “uitstaande” bedrag van R500 betaal nie.
Mirna von Benecke, woordvoerder van die Sinoville-polisie, het bevestig dat die brief vervals is. “Ons het met die metro gepraat en hulle deel nie dié soort briewe aan die inwoners nie uit nie.”
In die brief word inwoners aangemoedig om ‘n “Steve” te bel indien hulle die “agterstallige” bedrag wil betaal.
Die brief waarsku dat die kragtoevoer na die betrokke perseel gestaak gaan word omdat die diensterekening agterstallig is. Die “uistaande” bedrag moet betaal word of reëlings vir die afbetaling daarvan moet getref word.
‘n Opvolginspeksie sal gedoen word om vas te stel of dit gedoen is, sê die brief.
Von Benecke maan inwoners om nie vir hierdie slenter te val nie en die metro te skakel voordat hulle enigiets aan enigiemand betaal.
Die metro het nog nie terugvoer verskaf nie.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
