Een van Pretoria se beste marathon-atlete, Riana van Niekerk, moes die afgelope week aan vanjaar se Comrades onttrek nadat sy met pankreas-kanker gediagnoseer is.
Die 38-jarige Van Niekerk se puik vertonings tot dusver vanjaar het van haar ‘n gewisse kandidaat vir ‘n goue medalje in die Comrades-marathon gemaak, terwyl sy selfs ‘n kans gestaan het om dié gesogte wedloop te wen.
Van Niekerk, wat sedert 2004 reeds vier goue Comrades-medaljes ingepalm het, is ook ‘n gewese Suid-Afrikaanse marathonkampioen en rekordhouer in verskeie gesogte wedlope, soos die Wally Hayward-marathon wat jaarliks in Centurion aangebied word.
Sy hou ook die rekord in die Om-die-dam ultra marathon. Dié wedloop beskou sy as haar gunsteling en sy het dit al ses keer gewen.
Van Niekerk het ‘n persoonlike beste tyd van 2 uur en 43 minute in die marathon (42.2km).
Haar man, Allie, sê Riana het onlangs begin kla van maagpyn en aanvanklik het hulle vermoed dat sy ‘n maagseer kon hê. ‘n Dokter het vir haar maagmedisyne voorgeskryf.
Toe die pyn erger word, is sy terug na die dokter. Hierna is x-straal plate geneem wat getoon het dat daar kolle op haar pankreas en lewer is.
By verdere ondersoek en ná ‘n biopsie is Riana amptelik met kanker gediagnoseer.
Allie sê sy sal so gou moontlik begin met ‘n 12-weke kursus van chemoterapie.
“Ons hoop en bid vir die beste en ons is positief dat sy volkome sal herstel. Ons was ook verbaas om te hoor hoeveel mense reeds vir haar bid, nadat die nuus bekend geword het,” het hy aan Rekord gesê.
“Ons is baie dankbaar vir al hierdie ondersteuning en vra dat mense sal aanhou bid vir Riana.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
