NUUSFLITS: Beweerde welbekende dwelmvrou gearresteer
‘n Pa en sy beweerde dwelmhandelaar dogter gearresteer nadat sy probeer het om van die polisie en GPF weg te kruip.
‘n Vrou, wat na bewering welbekend in dwelmkringe is, is Saterdag in hegtenis geneem.
Sy is by ‘n dobbelplek in die Hercules-omgewing vasgetrek nadat sy probeer het om van die polisie en Hercules GPF weg te kruip.
Hercules GPF-voorsitter, Conrad Naudé, sê die vrou het hom voor die dobbelplek opgemerk.
“Weer het ons sukses behaal nadat inligting opgevolg is rondom ‘n verdagte persoon. Die vrou, wat welbekend is in dwelmkringe, is in ons wyk,” sê hy.
Naudé sê die Hercules-polisie is om hulp uitgeroep en die vrou is in hegtenis geneem waar sy in die dobbelplek weggekruip het.
“Sy het van klere verwissel en onder ‘n ou kombers in ‘n hoek van die stoorkamer in die dobbelplek gaan skuil toe sy agterkom daar word na haar gesoek,” sê Naudé.
“Na verdere ondersoek is haar pa, ma en broer ook gevra om die polisie en GPF-voorsitter na die polisiestasie te vergesel. Daar is crystal meths in die pa se besit gekry. Haar broer het dié keer niks aan hom gehad nie,” het Naudé aan Rekord vertel.
Hy sê terwyl die papierwerk by die stasie gedoen is, het die eienaar of bestuurder van die dobbelplek daar aangekom met ‘n pakkie wat vermoedelik CAT is, asook die strooitjies wat daarvoor gebruik word.
“Dit was agter die dobbelmasjien waar die ma gesit het weggesteek. Ongelukkig kan dit nie bewys word dat dit die ma se eiendom is nie.”
Naudé sê dit is ‘n bewys van die probleme waarmee hulle in dobbelplekke in die Hercules-omgewing opgesaal is.
“As enigeen bewus is van probleme rondom dwelms, kontak die polisie of sektorvoorsitters sodat die inligting opgevolg kan word,” sê hy.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
