Sky se dood: NDBV eis antwoorde ná inspeksie
Hy het ook aan Rekord bevestig dat die Raad ’n formele lêer oor SAPS Veterinary Services onder verwysing DM2621 geopen het.
Die dood van SAPD se dienshond, Sky, het nou ook ontwikkel van ’n tragiese dierevoorval tot ’n ernstige landwye gesprek na die polisie se hantering van sy eie diensdiere.
Die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings (NDBV), sê die organisasie het ná ’n inspeksie van die SAPD Dierehospitaal by Roodeplaat naby Pretoria verskeie dierewelsynsprobleme opgemerk en aangeteken en het ’n dringende vergadering met die polisie aangevra.
Die organisasie sê die omvang van Sky se beserings en die probleme wat tydens die inspeksie waargeneem is, maak direkte gesprekke met die polisie noodsaaklik.
Die NDBV het ook aangedui dat verdere onaangekondigde inspeksies sal volg.
“Die veearts wat by die ondersoek betrek is, het ook insette gelewer oor Sky se behandelingsgeskiedenis, wat in ons besit is, en daar is sekere aspekte van die verslag wat verdere opklaring vereis,” lui die verklaring.
Sky, ’n polisiehond is op 9 September uitgesit nadat sy ernstige beserings opgedoen het terwyl sy by die dierehospitaal by die Roodeplaat-fasiliteit gehuisves was.

Volgens Ian Cameron, voorsitter van die parlement se portefeuljekomitee vir die Polisie en die beskikbare inligting, het haar linkervoorbeen teen die kennelhek vasgehaak. Sy het vir ’n lang tyd gesukkel en ernstige beserings opgedoen, insluitend verskeie frakture en ’n oop fraktuur.
Sy is vir noodbehandeling na Onderstepoort geneem, maar haar toestand was uiteindelik so kritiek en onomkeerbaar dat sy uitgesit is.
Die kernvraag vir Cameron is nou nie bloot hoe Sky dood is nie.
“Waarom is sy toegelaat om so ernstig beseer te word en hoekom is daar nie redelike stappe vooraf geneem om dit te voorkom nie?” meen Cameron.
Hy bevestig dat onder meer administratiewe rompslomp in die pad gestaan het om Sky toe te ken aan ’n aansoeker wat bereid en gereed was om haar in te neem.
Cameron het strafregtelike stappe oor Sky se beserings geneem en ’n saak aanhangig gemaak.
Hy het ook gesê Sky se saak is volgens die inligting tot sy beskikking by die verkeerde polisiekantoor geregistreer.
Hy het ook ’n klagte by die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat ingedien en gevra dat die saak onafhanklik ondersoek word.

Cameron het aan Rekord gesê hy bevraagteken waarom niemand volgens hom by die eenheid van die versorging van diere verwyder of geskors is sedert die onthullings rondom Sky nie, terwyl hy self ernstige vrae het oor die fasiliteit se voortgesette bedryf.
Hy het bevestig hy het die Suid-Afrikaanse Veterinêre Raad (SAVC) in detail oor die geval ingelig.
Hy het ook aan Rekord bevestig dat die Raad ’n formele lêer oor SAPS Veterinary Services onder verwysing DM2621 geopen het.
“Dit is nie ’n bevinding van skuld nie, maar beteken die saak is formeel by die professionele reguleerder aangemeld en moet ondersoek word,” verduidelik Cameron.
Hy vra die raad om dokumentasie wat oor Sky se geval beskikbaar is en haar geskiedenis van angs en vorige kennelbeserings te ondersoek.
Hy vra verder vir ’n onafhanklike beoordeling van haar kliniese rekords en die oorsaak en waarskynlike duur van haar beserings.
Vir Cameron is die vraag ook of Sky se dood ’n geïsoleerde gebeurtenis was.
Hy sê inligting oor ander polisiehonde wat nou na vore gekom het, dui daarop dat daar ook vrae oor mediese sorg, kennelstres, toesig en die tydigheid van behandeling van ander polisiehonde bestaan.
Cameron het verwys na Quintin, B5145, ’n goue Labrador wat as ’n dwelmspeurhond opgelei is. Sy rekords wys op herhalende akrale lekgranuloom vanaf 2015, ’n toestand wat met kennelstres, angs en verveling verbind is.
’n Veearts het glo aanbeveel dat hy by sy hanteerder gehuisves word. Dit het volgens beskikbare dokumente nie gebeur nie. Latere foto’s toon ernstige beenbeserings. Quintin is uiteindelik uit die kennelomgewing verwyder nadat hy homself herhaaldelik beseer het.
Cameron het ook verwys na Cyrus, B6392, ’n dwelmspeurhond by Durban Central K9, wat in September 2025 ’n oop wond aan sy linker voorste elmboog opgedoen het. Sy toestand het daarna volgens sy mediese rekords versleg, met gewigsverlies, verlies aan eetlus, depressie en toenemende swakheid. Teen Oktober is moontlike nierversaking aangeteken. Hy is daarna uitgesit.
Brigadier Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder het aan Rekord bevestig dat daar nie veel toegevoeg kan word aan gister se verklaring deur die polisie waarin Sky se dood betreur word en dat sy uitgesit is nie.
Navrae is ook oor ander aspekte van polisiehondversorging aan die polisie gerig maar geen antwoorde is teen druktyd ontvang nie.
– Kliek hier om Sky te sien toe sy nog glewe het: https://www.facebook.com/reel/1071201612293208
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook,Twitter enInstagram enTikTok en WhatsApp Channel
