Vrou herleef angs van aanval op straat
Net voordat De Bruin onder die “bose man” se vuiste deurgeloop het, het hy ook ‘n onskuldige Algeriër, wat ook net gestap het, met ‘n bottel oor die kop geslaan.
Die angs daarvan om uit die bloute om straat aangeval te word, is hierdie week deur ‘n vrou van Moreletapark herleef.
“Hy het op my afgestap, reguit in die oë gekyk, arm teruggetrek en ‘n geweldige vuishou het my linkerkaak getref, ” vertel Eloïse de Bruin (62), ‘n afgetrede kleuterskool-onderwyseres van Fhrenschstraat.
Die man het haar ‘n tweede keer met die vuis bygedam.
De Bruin het verlede Woensdag, soos elke ander oggend, met haar Chihuahua, Benji, gaan stap.
“Almal in die buurt ken my en ek was nog nooit bang om met Benji te gaan stap nie,” het De Bruin Maandagoggend vertel.
Sy sukkel om te praat, want haar kakebeen is aan die linkerkant op verskeie plekke gebreek en moes deur ‘n noodoperasie geheg word.
Sy het net links gedraai in SpesBonostraat toe sy ‘n man gewaar wat oor die straat in haar rigting aanstap.
Nadat hy haar die eerste keer geslaan het, het die man De Bruin beveel om voor hom te kniel.
“Kneel before me,” het hy gelas.
Sy het gevra: “Excuse me?”
Maar omdat sy bang was, het sy gehoorsaam.
Hy het haar weer met die vuis geslaan en sy het begin skree.
Sy dreigende reaksie was: “Who will help you?”
De Bruin vertel: “Ek het hom in die oë gekyk en gesê: ‘God will help me. In Jesus’ name go, just go’.”
‘n Motor het in daardie stadium verbygery en die vrou agter die stuurwiel het haar toeter geblaas. Die man het na die motor gestorm en wou die venster uitslaan.
“Die dame het weggery en die aanvaller het weggehardloop. ‘n Verbyganger het stilgehou en ons het Bull-sekuriteit geskakel. Lede van die sekuriteitsfirma het die man binne tien minute ingehaal en in hegtenis geneem.”
De Bruin is na die Unitas-hospitaal in Centurion gebring waar haar kakebeen geheg is. “Ek is Vrydag uit die hospitaal ontslaan. Ek herstel wonderbaarlik goed.”
De Bruin sê sy het geen benul wat die man besiel het nie.
“Ek vermoed hy was onder die invloed van dwelms. Ek is ook nie bang om weer met Benji te gaan stap nie. Ek het nou besef dat as jy die Here aanroep, sal Hy jou help.”
Die man het niks waardevols by De Bruin gekry nie. “Ek gaan stap gewoonlik nooit met my selfoon of ander waardevolle besittings nie.”
Net voordat de Bruin onder die “bose man” se vuiste deurgeloop het, het hy ook ‘n onskuldige Algeriër, wat ook net gestap het, met ‘n bottel oor die kop geslaan.
Die man se naam is nie aan Rekord bekend nie.
Volgens French Jooste, die woordvoerder van Bull-sekuriteit, het hulle, nadat hulle De Bruin se oproep ontvang het, onmiddellik na die toneel gehaas.
“Ons het ‘n bebloede man langs die pad gekry wat beweer dat hy deur dieselfde man aangerand is. Die man het beweer dat hy van sy selfoon en R200 beroof is.”
Anton Welgemoed and Yanik Momsen van Bulls-sekuriteit het die man in Fhrenschstraat gekry.
“Hy het probeer vlug en het met die sekuriteitslede geworstel, maar hulle het daarin geslaag om hom te arresteer en na die polisiekantoor te neem. Dit wou voorkom of hy dwelms gebruik het,” het Jooste gesê.
Adjudant-offisier Dave Miller, woordvoerder van die Garsfontein-polisiekantoor, het aan Rekord bevestig dat ‘n klag van aanranding teen die man gelê is. “Hy het reeds in die Pretoriase landdroshof verskyn.”
Miller kon nie bevestig of die man ‘n geskiedenis van misdaad of geweld het nie.
Die man is steeds in aanhouding.
Lees ook:
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
