Twee meisies ontvoer in Pretoria-Wes
Twee tienermeisies van Pretoria-Wes is ontvoer en amper verkrag.
Twee tienermeisies is hierdie week op pad skool toe ontvoer en amper verkrag.
Die meisies van die weste van Pretoria kry steeds berading na wat Maandagoggend met hulle gebeur het.
“Ons was op pad skool toe en toe ons die anderkant van die brug nader, het ‘n kar voor ons stilgehou,” vertel een van hulle.
“Een van die mans het uitgeklim en my niggie aan die nek gegryp en in die kar gegooi.”
Die 14-jarige-meisie sê een van die ander mans in die kar het haar beveel om in die motor te klim. Hy het gedreig om haar niggie dood te maak as sy sou weier.
Sy het ingeklim en die voertuig het na die bopunt van die berg in Mountain View beweeg.
“Hulle het ons begin slaan en skop en ons klere afgeskeur,” sê sy.
Tuinwerkers het die meisies se benoude gille gehoor, waarop die mans weggejaag het.
“Ons het daar gesit en gehuil. Toe sê ek vir my niggie ons moet hardloop.”
Die meisies het drie blokke ver na ‘n huis gehardloop en ‘n behulpsame vrou het hulle huis toe geneem.
Die meisies is van Maandag af by die huis en ontvang steeds berading.
Die 14-jarige meisie se ma sê: “Ek is te bang om die kinders selfs uit die deur te laat gaan. Ek stuur hulle nie meer kafee toe nie. Dis ‘n verskriklike ding wat gebeur het.”
Die 14-jarige sê sy is na dese bang om net na aan enigiemand te beweeg en sukkel om te slaap.
“Ek is baie bang want hulle het gesê hulle gaan terugkom as ons praat oor wat gebeur het. Ek kan nie slaap nie en ek moet slaappille gebruik.”
Die 14-jarige se ma sê ‘n vriendin van haar dogter vertel dat dieselfde motor haar al agtervolg het.
“As dit met hulle twee kon gebeur, kan dit met ander kinders ook gebeur. Mense moet gewaarsku word.”
Hercules-GPF voorsitter Conrad Naudé sê pogings is aan die gang om die polisie sover te kry om by skole te gaan praat om kinders bedag te maak op sodanige aanvalle.
“Ons gaan ook sterker patrollies hê in die gebied. Ons wens ons kan al die kinders beskerm, maar ons kan nie en dit is die moeilikste ding,” sê Naudé.
Kyk hier na die video:
“Die kinders moet ingelig wees oor dinge rondom hulle en polisie kan help om hulle ingelig te hou oor hoe hulle mense kan identifiseer.”
Die mans was in ‘n rooi Golf GTI met ‘n onvolledige Jãgermeister-plakker op die windskerm.
Een van die vier mans het rooi hare en ‘n baard. Die ander drie se hare is onderskeidelik swart, blond en bruin van kleur.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
