Local newsMunicipalNews

Kommer oor waterlekkasies en sinkgate

Waterlekkasies regoor Centurion het raadslede bekommerd.

Waterlekkasies regoor Centurion het raadslede bekommerd.

Raadslid vir wyk 66, Ina Strijdom, sê Tshwane-metro se reaksietyd is te stadig.

’n Waterlek in Valhalla, skaars 100m van ’n sinkgat af, het vir vyf dae duisende liter water per uur uitgespoeg, voor dit herstel is.

’n Metro-span het verlede Woensdagoggend die pyp oopgegrawe en die lekkasie gestop, nadat Strijdom dit vir vier dae agtereenvolgend aangemeld het.

Swak vakmanskap en ’n onvoltooide lasplek was die oorsaak van die gebarste pyp.

Die pyp het wel weer dieselfde aand gebars en moes weer herstel word.

“Die probleem is dat die metro nie altyd bekwame herstelspanne aanstel nie,” sê Strijdom.

Sy sê die metro het ook nie genoeg voorraad, personeel, of voertuie om waterlekkasies onmiddellik te herstel nie.

“Die metro se departement van paaie-en-stormwater doen wat hulle kan, maar is nie toegerus om al die waterlekkasies te herstel nie.”

Strijdom sê haar grootste bekommernis is dat ’n sinkgat nou by die waterlekkasie gaan vorm.

“Skaars ’n blok verder af in die pad is daar ’n sinkgat wat deur dieselfde probleem veroorsaak is,” sê sy.

Enige gekonsentreerde invloei van water, veral in gebiede ryk aan dolomitiese klip, kan ’n sinkgat laat vorm.

Dié sinkgat in Valhalla het meer as twee jaar gelede ingeval, en is steeds nie herstel nie.

Rekord het in September 2014 oor die sinkgat, op die hoek van Hugo-en-Vinstraweg berig.

Strijdom het toe al kommer uitgespreek dat die metro nie genoeg geld het om die sinkgat te rehabiliteer nie.

Dié sinkgat het ’n deel van ’n erf en buitemuur ingesluk en is ook deur ’n waterlekkasie veroorsaak wat vir maande lank nie herstel is nie.

Tshwane-metrowoordvoerder Lindela Mashigo het in September 2015 aan Rekord bevestig dat die stad se jaarlikse begroting vir sinkgatherstel R4 miljoen is.

Strijdom sê dat hul begroting heeltemal te min is, en dat net een sinkgat se herstel tussen R10 miljoen en R30 miljoen kan kos.

“As daar te min begroot word om sinkgate te herstel, moet die geld uit ander departemente, soos paaie-en-stormwater befonds word. Dit veroorsaak ’n rippel-effek, wat beteken dat ander dienste, soos paaie herstel dan langer neem.”

Rekord het ook onlangs oor ’n Len Beyerslaan-huis in Pierre van Ryneveld berig wat stelselmatig deur ’n sinkgat ingesluk word. Dié sinkgat is ook deur ‘n waterlek veroorsaak.

Rekord het die metro verlede Woensdagoggend vir kommentaar genader oor wanneer die Valhalla-sinkgat gerehabiliteer gaan word en vir bevestiging dat die stad se sinkgat-rehabilitasiebegroting steeds te klein is.

Tot dusver het ons geen terugvoer gehad nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ nabreakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button