Vloede en watervermorsing – die noorde se grootste kommer
Liters water loop in strate af, terwyl droogte-geteisterde gebiede steeds afhanklik is van waterskenkings.
Corlia Kruger
Pype wat bars en lekkende watermeters het inwoners briesend na talle berigte oor die waterskaarste op plase en verskeie gebiede landwyd.
Dít is waaroor inwoners in die noorde van Pretoria die afgelope paar weke galbraak.
Inwoners in Sinoville, Montana, Pretoria-Noord en ander woongebiede het die afgelope week baie klagtes oor waterlekkasies aangemeld. Sommige inwoners, soos Mari Naudé van Sinoville het aan Rekord gesê dat haar nuwe watermeter vir maande al lek.
“Ek het verlede jaar, sedert die meter begin lek het, dit by die Tshwane-metro aangemeld. Voor my erf is daar nou ’n modderpoel en snags lawaai die brulpaddas wat hulself daar tuisgemaak het,” vertel Naudé.
Watervermorsing is nie die enigste kommer van inwoners in die noorde nie.
DA-raadslid Ben Wannenburg het onlangs aan Rekord uitgewys dat daar ’n goeie kans is vir nog vloedskade weens die gebrek aan waterdreineringstelsels.
Wannenburg het onvoltooide padwerke naby die reservoir in die Sinoville-omgewing ook as ’n groot probleem uitgewys.
“Sowat twee tot drie jaar gelede het hulle met die ontwikkeling begin,” sê Wannenburg terwyl hy na die grondpad wys wat teen die berg oploop.
“Bome, wat gedien het om water te keer wat gedurende die reënseisoen teen die berg afloop, is saam met die grond tydens konstruksie weggestoot,” verduidelik Wannenburg.
“Die kontrakteurs wat gekry is om die pad uit te lê, het nooit hul werk voltooi nie en die grondpad word met elke reënbui weggespoel.”
Hy sê die stormwaterafvoerstelsels in die straat teen die berg is verstop en hy voorspel dat hewige reën soos verlede November, meeste van die woonhuise weer onder water sal hê.
Wannenburg eis nou dat die Tshwane-metro intree om ’n vloedramp te voorkom, soos die wat die noorde van Pretoria verlede jaar in November getref het.
Tshwane-metro het teen druktyd nog nie kommentaar gelewer oor die onvoltooide padwerke en waterlekkasies nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

