Local newsMunicipalNews

Spoedvrate in Waverley bly ’n kommer

Inwoners in Walterlaan, Waverley sê dit gaan meer as net ’n spoedbult neem om spoedvrate te keer om in dié straat te jaag.

Corlia Kruger

Tshwane-metro stel ondersoek in op klagtes van motoriste wat padreëls verontagsaam en die spoedgrens in Walterlaan, Waverley oorskry.

Na talle klagtes van inwoners in dié laan, het senior-superintendent Oloff Theunissen, van gespesialiseerde polisiëring ingryping: spoedwetstoepassing, het gesê dat daar aandag aan die saak gegee sal word.

“Siende dat die straat baie lank is, moet ’n spesifieke deel uitgewys word (geskik vir ’n spoedkalmeringstelsel) om te help met verdere ondersoek,” het Theunissen onlangs per e-pos gereageer op navrae oor spoedbeheerstelsels.

Tanya de Vente-Bijker, een van die inwoners, het vroeër aan Rekord gesê inwoners is daagliks in gevaar om in ’n ongeluk te beland wanneer hulle uit hul eie oprit in die straat indraai.

Sy meen dat die saak van spoedbeheer reeds vorige jare aan die metro voorgelê is. “Ons het tot dusver geen oplossing om mense te keer wat in die straat jaag nie,” sê sy.

In Februarie verlede jaar, nadat De Vente-Bijker DA-raadslid Frans Smith oor die saak genader het, is ’n petisie opgetrek met ’n eis dat maatreëls ingestel word om snelheid in the straat aan bande te lê.

“Tot die busse wat die straat gebruik, ry ongelooflik vinnig en steek selfs ander voertuie op die pad verby.”

Tinus Bornman, wat ook in die straat woon, sê hy kan getuig van gevalle waar bestuurders padreëls verontagsaam en ander motoriste onwettig verbysteek.

“Net vanoggend het ’n motor verby my gesnel om voor my in te druk,” het Bornman Maandagoggend ’n ‘byna-ongeluk’ aangemeld.

Bornman sê die motoris het die aankomende voertuie skraps gemis en vertel hy moes vinnig rem om ’n botsing te voorkom toe die motor voor hom indraai.

“Ek weet dit pla my baie as daar spoedbulte en walle in die pad is as ’n mens ry – maar ons kan nie meer anders nie. Daar moet iets gedoen word om spoed te beheer,” sê Bornman.

Hy meen in plaas van spoedbulte kan spoedwalle beter werk om motoriste se spoed te breek.

“Die lae walletjie in die pad kan skade aan ’n mens se voertuig aanrig as mens te vinnig oor dit ry. Mense gaan nie anders kan as om spoed te verminder nie.”

Nog mense het voorstelle vir spoedbeheer op sosiale media gedeel:

Capture_54551

Bornman sê daar is vier nabygeleë skole in die omgewing en vertel dat skoolkinders in die middae huis toe stap of met fietse Walterlaan moet kruis.

“Dit is uiters gevaarlik. As mens kyk na hoeveel ongelukke en amper-ongelukke in die pad plaasvind, is dit net ’n kwessie van tyd voor ’n kind getref word,” sê Bornman.

“Daar sal dadelik iets aan die saak gedoen moet word om só ’n ongeluk te voorkom.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button