Local newsMunicipalNews

Gruwel-erwe in die Moot

Inwoners in die Moot kla oor huise en erwe wat ’n gesondheid- en veiligheidsrisiko inhou vir hul woonbuurt.

Corlia Kruger

‘n Rotplaag en onaangename reuke afkomstig van leë en verwaarloosde erwe stem inwoners van Capital Park en Queenswood diep ongelukkig.

Hulle sê die beboste erwe is nie net ’n seer oog nie, maar lok peste en beïnvloed die welstand van ander wonings in die buurt.

DA-raadslid in Capital Park, Elma Nel sê daar is ’n hele paar erwe in dié omgewing wat huiseienaars en huurders verwaarloos.

In Van Heerdenstraat sukkel hulle reeds maande lank om ’n probleem met rou riool in ‘n agtertuin op te los.

“Die toilet is verstop en die mans gebruik nou die tuin vir ‘n toilet. As die wind waai kry jy die slegte reuk van die rioolpyp wat verstop is,” skryf inwoner Reyneke du Preez in ’n e-pos.

Nel was saam met Tshwane-metro verlede jaar toe ondersoek ingestel is by die perseel.

“Die eienaar het nooit sy elektrisiteitsrekening betaal nie en die huurders gebruik nou gas of paraffienstowe om kos in hul kamers te maak.”

Nel sê daar het sedert die laaste besoek van die metro nog huurders by die huis ingetrek en die situasie het vererger.

Ian Fordred sê hy woon sedert 1995 in Van Heerdenstraat en kla dat die riool en ‘n rotteplaag onaanvaarbaar is.

“Dit is ook ’n brandgevaar as die huurders op oop vure hul kos moet maak omdat daar nie elektrisiteit is nie.”

Hy sê die brandweer moes al ontbied word om brande in die huis te blus.

Sowat sewe huurders deel op die oomblik die huurhuis, sê die bure.

Ook in Carterlaan, Queenswood, kla inwoners oor ’n verwaarloosde erf.

“Die gras en rommel staan vensterhoogte,” het een van die bure vertel. “Die huis is in ’n haglike toestand en baie onooglik vir inwoners en mense wat daar verby ry.”

Nel het soortgelyke probleme in Booysen- en Meyerstraat by die metro aangemeld.

“Ek wil regtig ’n beroep op huiseienaars doen om verantwoordelik op te tree wanneer hulle ’n huis verkoop of verhuur,” sê Nel.

“Dit skep ’n gesondheidsgevaar en ‘n sekuriteitsrisiko wanneer huise se instandhouding so verswak dat dit die res van die woonbuurt onleefbaar maak.”

Nel versoek die metro om in te gryp en streng op te tree teen diegene wat hul bure se reg op ’n skoon en veilige woonbuurt ontneem.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button