Pendelaars kan Tshwane buskaartjies verleng ná stakings
Pendelaars kan weeklikse Tshwane-busdiens kaartjies laat verleng ná stakings vroeër vandeesweek.

Pendelaars kan hul maandelikse Tshwane-busdiens kaartjies verleng indien hul dae op die kaartjie verloor het weens ’n staking deur busdrywers.
Tshwane metro woordvoerder Lindela Mashigo sê hulle kan die kaartjieskantoor op Kerkplein besoek om hul maandkaartjies te verleng.
“Ons kan ongelukkig nie kaartjies terugbetaal nie, maar wel verleng.”
Ontevrede inwoners het hul stemme dik gemaak oor geld wat verlore kan gaan weens ’n staking vroeër vandeesweek.
Kelvin Jansen, ‘n inwoner van Eersterust, sê was een van diegene wat bekommerd was dat hy geld gaan verloor.
Jansen se dogter reis daagliks met ’n metro-bus van Eersterust af na Hoërskool F.H. Odendaal.
“Ons koop ’n weeklikse kaartjie, maar dan werk die busse vir twee dae nie. Ons verloor dan die geld wat ons vir daardie twee dae betaal het.”
Jansen sê hy is in die algemeen ontevrede met Tshwane se busdienste.
“My dogter het al vyf skooldae misgeloop omdat die busse nie gery het nie. Sy het selfs al ’n eksamen gemis. Ek moet aanhoudend briewe vir die skool skryf en om verskoning vra.”
Jansen sê busdrywers aanvaar steeds nie kontant van pendelaars af nie.
“As my vrou vir een dag moet bus ry, dan moet sy sommer vir ’n weeklikse kaartjie betaal omdat sy nie kontant kan betaal vir een busrit nie.”
Mashigo sê kaartjies is nou beskikbaar vir enkelbusritte.
“Hierdie enkelrit-kaartjies is slegs ’n tydelike oplossing todat ’n permanente oplossing gevind is vir die kontantprobleem.”
Mashigo het namens Tshwane-busdienste om verskoning gevra.
“Pogings word gemaak om al die probleme op te los en om die diens soos normaal te laat voortgaan.”
Die burgemeester se woordvoerder, Blessing Manale, het Maandag gesê die staking was onwettig.
“Die staking is ’n gevolg van ’n dispuut tussen die SA Transport and Allied Workers’ Union en die SA Municipal Workers’ Union.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ nabreakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
