Straatligte vir langer as ’n jaar in die Moot stukkend
Die lys van straatligte wat in die Moot buite werking is, raak ál langer.
Andrea Küsel
Inwoners van groot dele in Capital Park en omringende gebiede sukkel die afgelope 13-maande om straatligte in dié woonbuurte herstel te kry.
Raadslid Elma Nel het aan Rekord gesê die lys van foutiewe straatligte raak net langer.
Nel het al menigte lyste van straatligte wat buite werking is, saamgestel. Capital Park word die ergste deur dié probleem geraak.
“Ek stuur al vir 13 maande lank e-posse aan die Tshwane-metro om die ligte weer ten volle in werking te kry. Die ligte sal dalk vir ’n maand lank werk, maar dan sit inwoners weer in die donker.”
Strate in Capital Park wat die ergste geraak word, is Trouw-, Malherbe-, Flowers- en Van Heerdenstraat.
Capital Park is egter nie die enigste gebied wat sonder werkende straatligte sit nie. ’n Afsondelike lys toon dat Wonderboom-Suid, Mayville en Les Marais ook geraak word.
In Mayville is 5de Laan, Mansfield-, Rhys- en Paul Krugerstraat die ergste getref. In Mansfield is daar meer as 16 straatligte buite werking.
“Mansfieldlaan deur Wonderboompoort is vir drie jaar sonder straatligte. Verlede jaar het die straatligte vir ’n maand gewerk en nou is dit weer stukkend. ’n Mens is weerloos so in die donker.”
Nel het die lys saamgestel in samewerking met die plaaslike GPF.
“Die GPF’s wat in die gemeenskap patrollie doen, skryf elke paalnommer van straatligte wat nie werk nie neer. Hulle stuur die paalnommers dan aan my, en ek sit hulle dan saam in ’n lys.”
Nel sê sy het al meer as ’n honderd e-posse aan die Tshwane-metro gestuur rakende die straatligte wat inwoners in die donker laat.
“Die burgemeester van Tshwane het in sy stadsrede verlede jaar ’n belofte gemaak om meer aandag te skenk aan stukkende straatligte. Hy het self erken dat donker strate bydra tot misdaad.”
Nel meen donker strate is ’n gevaar, nie net vir motoriste en voetgangers nie, maar ook vir huiseienaars. “Niemand kan sien as daar iemand van buite oor ’n erf se heining klim nie. Donker strate lok diewe en maak ’n buurt onveilig.”
Mike Burt, voorsitter vir Capital Park-subforum, sê die straatligte se probleem lê by verouderde infrastruktuur.
“Die ligte word elke nou en dan herstel maar na ’n maand of die eerste reën is al die straatligte weer af. Dis ou infrastruktuur wat nie opgradeer en onderhou word nie.”
Pierre Bezuidenhout, voorsitter van Parktown en Roseville GPF, sê die stukkende straatligte maak dit moeilik om misdaad in die betrokke woonbuurte te bekamp.
“Misdadigers vlug dikwels na die donkerder gebiede. As die straatligte nie werk nie, word dit ’n gewilde wegkruipplek vir misdadigers wat deur die GPF agtervolg word. Ons het al baie verdagtes agternagesit wat dadelik vir die gebiede sonder straatligte mik,” sê Bezuidenhout.
Hy voeg by dat hulle ook gereëld paalnommers aan Nel deurgegee het.
“Ons het al van D.F. Malanrylaan regdeur tot Voortrekkerweg paalnommers neergeskryf en aan Elma deurgegee sodat ons dit op ’n lys kan kry.”
Nel sê sy en die inwoners hetverlede jaar selfs ’n kerslig-optog gehou, sonder enige sukses.
Talle inwoners het hul stemme verlede week op Facebook dik gemaak.
Mariaan Rothmann skryf op Facebook: “My huis se vensters is al twee keer met bakstene stukkend gegooi. Ek het al 17 e-posse gestuur. Ek het al 24 keer dit geraporteer. Ons is te bang om in die aand uit te gaan en terug te kom want jy sien nie altyd die mense daar staan en sit nie. Ek voel onveilig in my eie erf. Ek kan nie meer voorbly met vensters vervang van skade wat boosdoeners in die donker aanvang nie!”
Anna Wedderspoon skryf: “Die straat is saans in donkerte gehul en inwoners is bang om dit alleen buite te waag uit vrees dat kwaaddoeners hulle sal aanval.”
Tshwane metro het teen druktyd nog nie kommentaar oor die knelpunt gelewer nie.
Lees ook:
Familie treur na jong motorfietsryer se dood
Do you have more information about the story? Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram.
- We have exciting news! We’re offering a free alert to help you always be in the loop. Send an email with the word ‘Subscribe’ to breakingnews@rekord.co.za to receive your free daily breaking news update.
