CrimeLocal newsNews

Konstabel verskyn weer oor moord

Verdere ondersoek is onderweg na die vermoorde polisieman se dienspistool gevind is.

Die moordsaak van ‘n polisieman in die Moot is uitgestel vir verdere ondersoek.

Konstabel Rishen Rampashard het Donderdagoggend in die Hoogeregshof verskyn en word van die moord op luitenant-kolonel Reinier Lagois (42) verdink.

Die saak is tot 4 Mei uitgestel vir verdere ondersoek nadat Lagois se dienspistool onlangs gevind is.

Privaatspeurder Mike Bolhuis sê die pistool word nou ballisties ondersoek vir verdere leidrade.

Volgens Bolhuis is Lagois se wapen by ‘n man gevind wat in hegtenis geneem is weens dwelmbedrywighede.

Lagois is in Januarie by sy huis in 20e Laan, Rietondale doodgeskiet.

Sy familie het besluit om die dienste van privaatspeurder Mike Bolhuis in te span om die moord te ondersoek.

Die familie het vroeër in ’n verklaring die polisie bedank vir hul werk in die ondersoek.

“Jul (die polisie) onverdeelde lojaliteit en toewyding aan die diens vir die mense van Suid-Afrika word baie waardeer en ons stuur ons beste wense aan julle in die strewe na geregtigheid in hierdie wreede moord van luitenant-kolonel Reinier Lourens Lagois.”

Rampashard het vroeër in die hof getuig dat die polisie en die Valke hom gedwing het om skuld te erken.

Hy het gesê hulle het hom gemartel, geslaan, gewurg en ’n plastieksak oor sy kop getrek.

“Ten spyte van die feit dat ek saamgewerk het… het hulle my met geweld in ’n kar ingegooi,” sê hy in ‘n verklaring wat sy prokureur Kineil Muthray aan die hof voorgelees het.

“Ek was vir meer as vyf ure aangehou, geforseer om ’n verklaring af te lê en geweier om my regsverteenwoordiger te kontak.”

Lagois se broer Hennie het vroeër gesê die vermoorde polisieman was betrokke in ’n liefdesdriehoek kort voor sy dood.

Hy het gesê Lagois het saam met sy voormalige vriendin Caroline Naidoo in die huis gewoon waar hy vermoor is.

Naidoo is ’n voormalige bevelvoerder van die Pretoria-Wes-polisiekantoor.

Rampashard en Naidoo was na bewering in ‘n verhouding.

Die moontlikheid dat Naidoo dalk betrokke was by die moord word ondersoek.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ nabreakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button