Maak reg vir hierdie herfskonsert
Luister en geniet ’n voorsmakie van die pragstemme van die vrouesanggroep: KaleidoCanto. Sien ook hoe jy ’n gratis kaartjie na die herfskonsert kan wen.
KaleidoCanto is ‘n gewilde vrouesanggroep met lede wat almal uit die Moot-omgewing kom.
Hulle tree sedert 2000 gereeld op by feestelike geleenthede soos vroueoggende, ouetehuisfunksies en koorbyeenkomste.
Ook helder hulle die eredienste van gemeentes in Pretoria op met hul sang.
KaleidoCanto staan onder leiding van hul jongste lid en sopraan, Alda Claassen.
Sy het ’n meestersgraad in musiek in 2014 aan die Universiteit van Pretoria voltooi en is musiekdirekteur by ’n privaatskool.
Die groep se naam spreek van ’n kleurvolle kaleidoskoop van klank en is tekenend van die lede se uiteenlopende persoonlikhede en beroepe.
Die ander twee soprane (en enigste oorblywende stigterslede van die oorspronklike Anoniem 10) is Heleen du Toit, ’n dosent in gemeenskapgesondheid by Unisa, en Isabel Claassen, ’n vryskut-taalkonsultant.
Die drie middelstemme is Jackie Leach, amateurskilder, Dorette Nieuwoudt ’n tandartsassistent, en Helena Janse van Rensburg ’n bemarkingsbestuurder by ’n kunsgalery.
Die alte is Estelle Jonkheid, ’n navorsingsbestuurder in die dobbelnywerheid, en Sarina van Renssen, ’n persoonlike assistent.
KaleidoCanto se derde altstem is Janette van der Spuy van Wonderboom-Suid.
KaleidoCanto berei nou voor vir hul herfskonsert op 14 Mei om 18:00 n die Gereformeerde gemeente Die Kandelaar in Codonialaan, Waverley.
Kaartjies teen R80 per persoon kan vooraf bespreek word. Die bedrag sluit in ’n glasie sjerrie, ’n koppie sop en ’n broodjie wat tussen 18:00 en 18:45 bedien sal word.
Gaste kan kom luister na die suiwer sang van hierdie dames, enkele soliste en duette, asook na die seunssanggroep van die Afrikaanse Hoër Seunskool.
*Besoek ook Kaleido Canto op Facebook.
“Die eerste tien persone wat ons konsertadvertensie na hul algemene tydlyn (“timeline share”) sal ’n gratis konsertkaartjie wen,” sê Isabel Claassen.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ nabreakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
