Metro sê bejaarde moet self grassny
‘n Bejaarde Moot- inwoner is onglangs aangeraai om self die gras op munisipale grond te sny.
’n Bejaarde Moot-inwoner was onlangs sprakeloos nadat ’n metro-werker voorgestel het dat die man self lang gras op ’n munisipale sypaadjie sny.
Chris le Roux van Capital Park sê die gras op die hoek van 5de Laan en Flowersstraat is drie maande laas gesny.
“Die gras is nou al so lank dat dit ’n seeroog vir die omgewing is,” sê hy.
Le Roux het ’n e-pos oor die lang gras aan Tshwane- metro gestuur in die hoop dat die probleem vinnig sou aandag geniet.
Die metro se anwoord het hom verbaas. In die e-pos het ’n metro-werker aan Le Roux gesê dat al die metro se gehuurde grassnyers tans onbeskikbaar is en dat die munisipaliteit in die tussentyd geen gras sny nie.
“Wat my die meeste geskok het, is dat die metro-werker voorgestel het dat ek self die gras moet sny, omdat hulle nie op die oomblik enige gras gaan sny nie,” sê Le Roux.
Le Roux sê hy is nie van plan om geld te spandeer en ’n munisipale sypaadjie se gras te sny nie.
“Ek sal ’n langer kragdraad moet gaan koop as ek daar met my grassnyer wil bykom. Ek is nie bereid om my geld, tyd of energie te spandeer om die stadsraad se werk te doen nie,” sê hy.
Raadslid Elma Nel sê die instandhouding van parke, begrafplase en sypaadjies het ’n hartseer saak vir haar geraak.
“Elke werker van die metro ontvang ’n salaris om sekere take uit te voer. Ons het die afgelope paar jaar die instandhouding van parke en sypaadjies as vanselfsprekend aanvaar,” sê sy.
Nel sê die begroting vir instandhouding word elke maand groter maar daar word al minder met dié geld gedoen.
“Dis totaal en al verregaande en onaanvaarbaar om van ’n bejaarde man te verwag om ’n munisipale sypaadjie in stand te hou,” sê Nel.
Die Tshwane-metro het teen die tyd van publikasie nog nie kommentaar gelewer nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ nabreakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
