Ontwikkeling en waterlekkasies nagmerrie
Inwoners in Akasia is die hoenders in oor waterlekkasies en onwikkelingskemas wat hul in die donker laat.
Inwoners in Akasia is raadop met waterlekkasies en die vermorsing van water in hul omgewing.
’n Ontwikkelingsterrein in Hestea Park, sê raadslid Marnette Sutherland, is veral ’n bron van kommer.
“Die lang gras versteek die stroom water wat vrylik vloei,” het Sutherland Donderdag op die toneel aan Rekord vertel.
’n Enkele onvoltooide struktuur staan op dié grond, met ’n geinstalleerde watermeter en Sutherland bevraagteken die “goedgekeurde” bouplanne.
“Volgens die goedgekeurde bouplan van die raad van trustees, wil dit voorkom of die eiendom onder ’n ‘Section 21’ (Artikel 21) ontwikkeling geplaas is.”
Artikel 21 sorteer onder nie-winsgewende ontwikkelingsplanne om programme en dienste te voorsien wat tot die openbare voordeel is.
“As dit so is, behoort daar nie ’n watermeter te wees nie en behoort die rekening vir fasiliteitsgeriewe reguit na die ‘body corporate’ te gaan.”
Sutherland sê sy kry egter nie bevestiging by die metro oor die ontwikkelingsterrein nie.
“Ons kan nie seker wees of dit wel onder ’n artikel 21-ontwikkeling val nie. Wat wel seker is, is dat iemand iets moet doen oor die watervermorsing en veiligheid rondom die perseel.”
Inwoners in Akasia kla ook oor waterlekkasies wat volgens hulle ’n jarelange probleem op sommige plekke is.
Bernie van Deventer het onlangs fotos gedeel van ’n gat op die hoek van Suricate- en Badgerstraat.
“Ons sukkel al met die waterlekkasie vir byna twee jaar,” sê Van Deventer.
Ander inwoners verduidelik dat die waterpyp op die hoek gereeld bars. Hulle sê sodra die pyp herstel is, begin dit kort voor lank weer lek.
“Dit werk nie om die pyp net te las nie. Die water vloei steeds,” vertel ’n inwoner.
“Dit lyk of hulle toe hul laas hier was, ’n sloot tot by die stormwaterdrein gegrawe het sodat die water kan afspoel. Dis grootskaalse vermorsing van water.”
Van Deventer sê in Suricate-, Ietermagog- en Badgerstraat is daar heelwat ander “kleiner” waterlekkasies aangemeld.
Rekord wag op terugvoer van die Tshwane-metro aangaande die waterlekkasies.
Also read:
Waterlekkasie nagmerrie in die noorde
Waterlekkasie-skade vir sakeondernemings
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.





