Onwettige storting steeds Moot-kopseer
“Die burgerregte-organisasie AfriForum het die #skoonSAinisiatief in Mei 2014 geloods."
Onwettige storting is al vir jare ’n probleem in die Moot.
In ’n poging om onwettige storting te stop, het AfriForum op 8 September sy stortingsterrein-ouditverslag bekendgestel en aan die Minister van Omgewingsake, Edna Molewa, oorhandig.
Die oorhandiging volg nadat die burgerregte-organisasie in Junie en Julie vanjaar stortingsterreine gaan oudit het in gebiede waar AfriForum-takke het. Die resultate is in ’n verslag uiteengesit.
Die oudit is gedoen aan die hand van die minimum vereistes waaraan ’n stortingsterrein moet voldoen, soos uiteengesit in wetgewing en regulasies in onder meer die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis, 2008 (Wetno. 59 van 2008).
AfriForum het tydens dié geleentheid ’n vullisvragwa met voorwerpe gevul wat ingevolge toepaslike wetgewing nie op ’n stortingsterrein hoort nie. Die verslag is by die geleentheid bekendgestel en oorhandig.
“Die burgerregte-organisasie AfriForum het die #skoonSAinisiatief in Mei 2014 geloods. Dié projek streef na positiewe verandering in die bestuur van afval oor die hele Suid-Afrika heen, asook om betrokke amptenare verantwoordbaar te hou,” sê hoof van omgewingsake by AfriForum Marcus Pawson.
Vele probleme is al deur Moot-inwoners ervaar as gevolg van onwettige storting.
In Februarie vanjaar het Rekord berig dat ’n Capital Park-inwoner gekla het oor hope tuinrommel langs haar huurhuis in Malherbestraat. Sy het gesê dit het ’n plaag rotte veroorsaak.
Moot-inwoner Charlotte Vermeulen het beweer dat ’n man met ’n tuindienste-onderneming verantwoordelik was vir die gemors.
“Ek het ’n paar jaar lank die man se tuindienste gebruik,” vertel Vermeulen.
Sy sê sy het einde verlede jaar egter ontdek dat haar tuinrommel en vermoedelik ook ander huise se tuinrommel reg langs haar huis gestort word.
’n Meer onlangse geval het in April hierdie jaar in Eersterust kop uitgesteek.
In ’n paar gebiede regoor Eersterust het onwettige storters hul huishoudelike en tuinafval in hope gestort. Dit het slegte reuke by huise in die omgewing veroorsaak.
Inwoners sê ’n onwettige stortingsterrein op die hoek van Goeie Sheppardlaan en Roodtstraat is al die afgelope sewe jaar ’n probleem.
Daar is ook stortingsterreine in Heliumstraat by die leë erwe in Highlandspark, op die hoek van Wilfred Roodt- en Bennet Erneststrate, Atlantislaan en naby 7de Laan by die nagklub.
Inwoners voel die onwettige stortingsterreine skep ’n gesondheidsrisiko, veral vir kinders wat deur die veld loop waar die afval gestort word.
Tshwane-metro het al talle kere inwoners gewaarsku oor onwettige stortingsterreine.
“Individue en ondernemings wat hulself daaraan skuldig maak om afval in woongebiede te stort, kan streng beboet word,” het die metro gessê.
Inwoners kan onwettige storting by hul metro-raadslede aanmeld.
Lees ook:
Missing man still undiscovered
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.



